Boek: Verhoudings onder druk

 Verhoudings-onder-druk_voorblad.jpgRonel du Toit

13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk

Wat is my rol in verhoudings? Hoe kan ek gelukkige en volhoubare verhoudings skep? Hoe kan ek my kollega, ouer, kind, huweliksmaat of vriend beter verstaan? Wat kelder my verhoudings met ander? In Verhoudings onder druk: 13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk gee die sielkundige Ronel du Toit praktiese riglyne om verhoudings suksesvol aan te pak. Aan die hand van voorbeelde werp die skrywer ook lig op die meganika van verhoudings, sodat jy jou verhoudings met jou kinders, maat, vriende, ouers en kollegas beter kan verstaan en bestuur. Sy glo dat kommunikasie in en oor verhoudings uiteindelik jou geestesgesondheid en lewensgehalte beïnvloed. Jou verhoudings, skryf sy, kan jou op die wipplank van geluk of ongeluk laat ry. In dié boek gee Ronel sleutels om hierdie geluk te ontsluit.

Oor die outeur

Ronel du Toit het ʼn meestersgraad in voorligtingsielkunde en glo dat jy jou geesteswelsyn en geluk kan bevorder deur jou verhoudings uit te bou, te herstel en te versterk. Sy het haar eers as verpleegkundige aan die Universiteit van die Vrystaan bekwaam, waarna sy verder in die sielkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy werk tans by die Universiteit van Pretoria se afdeling vir Studente-ondersteuning waar sy fokus op individuele terapie, psigometriese toetsing en die aanbied van werkswinkels. Verhoudings onder druk is ʼn verlengstuk van haar werk as sielkundige en haar belangstelling in mense se stryd om sin te maak van die verskeidenheid van verhoudings waarin hulle betrokke is.

Haar boek is gegrond op nuutste navorsing in die sielkunde en die beginsel dat ʼn mens jou geluk en geesteswelsyn kan bevorder deur meer doeltreffende verhoudings te skep en te handhaaf. Die kern daarvan is dat mense ʼn impak op mekaar het. Hulle is dikwels onbewus daarvan. Daarom is die gehalte van jou verhoudings afhanklik van die gehalte van jou kommunikasie en is dit soos ʼn naelstring gekoppel aan die emosies wat ʼn mens op ʼn daaglikse basis ervaar.

Ronel het as plaaskind in die Oos-Vrystaat grootgeword en sy is steeds betrokke by hul familieboerdery in die Paul Roux-omgewing. Sy woon in Pretoria saam met haar man. Hulle het drie seuns.

Uitgewer: Christel Foord
Prys: R200.00*
Boek beskikbaar by Graffiti Boeke  of  bestel direk by Ronel deur vir haar ‘n epos te stuur na [email protected].
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.