Veronika het alles wat sy kan begeer – sy is jonk en mooi, met oorgenoeg aantreklike kêrels, ’n vaste werk en ’n liefdevolle familie. Nogtans is Veronika ongelukkig, en een winteroggend besluit sy om ’n oordosis slaappille te drink, maar word dan ’n ruk later in die plaaslike hospitaal wakker. Daar vind sy uit dat hoewel sy lewe, haar hart onherstelbaar beskadig is en dat sy slegs ’n paar dae oor het om te lewe….
Die verhaal volg haar deur hierdie intense tyd terwyl sy al haar idees oor die lewe begin bevraagteken. Sy besef spoedig dat elke sekonde van ons bestaan ’n keuse tussen lewe en dood is. Dis ’n roerende en besielende lied aan die lewe, wat ons daaraan herinner dat elke oomblik in ons lewe spesiaal en kosbaar is.
Oor die outeur
Paulo Coelho is in 1947 in Rio de Janeiro gebore. Hy is ’n top-verkoper en een van die wêreld se invloedrykste skrywers. Meer as 215 miljoen eksemplare van sy romans is al in meer as 170 lande verkoop en sy werk is in 81 tale vertaal.
Oor die vertaler
Kobus Geldenhuys het in 2015 die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014). In 2016 is Geldenhuys met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015). Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van televisiereekse en animasieprente vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer Geldenhuys nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.
Prys: R225,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis