Boek: Versamelde dramas – NP van Wyk Louw

Vir die eerste keer word NP van Wyk Louw se dramas, hoorspele en ʼn libretto in ’n versamelbundel uitgegee. Deborah Steinmair en Kristèl de Weerd is die samestellers van dié bundel, Versamelde dramas – NP van Wyk Louw.

In die voorwoord skryf prof. Chris van der Merwe: “Met die herlees van Van Wyk Louw se oeuvre het dit my opgeval hoe dikwels sy tekste in gesprek met mekaar is. Soortgelyke temas word herhaaldelik uitgebeeld, die tekste sluit by mekaar aan, komplementeer én weerspreek mekaar soms. Dikwels kom die temas wat Louw in sy essays bespreek het of in sy poësie tot uiting gebring het, ook in die karakterisering en die intriges van die dramas na vore. Dit is opmerklik dat die denke van Louw nooit stagneer nie en dat daar steeds tekens van ʼn voortgaande worsteling en vernuwing is. Die indiwiduele dramas, in die groter konteks van sy oeuvre gelees, laat ʼn fassinerende skrywerspersoonlikheid na vore kom.”

Oor die skrywer

Nicolaas Petrus van Wyk Louw (1906–1970) word as een van Suid-Afrika se grootste skrywers beskou. Hy was ’n letterkundige en professor aan die Gemeentelike Universiteit in Amsterdam en die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was ’n Afrikaanse filosoof, digter, dramaturg en skrywer en die enigste persoon wat die Hertzogprys in drie genres gewen het, naamlik digkuns, drama en kritiese prosa.

Van der Merwe sê verder oor Louw: “Dit is waar dat hy hom tot die Afrikanernasionalisme verbind het. ʼn Mens moet dit plaas binne die konteks van die tyd toe Afrikaners geworstel het met die ekonomiese en psigologiese gevolge van die Anglo-Boereoorlog. Daar was die wesentlike moontlikheid dat die Afrikaner se taal en kulturele erfenis deur die magtige Engelse taal en kultuur vernietig kon word. Vanuit hierdie agtergrond moet sy verbintenis tot die Afrikanernasionalisme verstaan word.”

Prys: R595,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.