Boek: Voor-bode

Voor-bode-voorblad.jpgCas Vos

Die titel van Cas Vos se nuutste bundel dui nie op ’n onheilsboodskap nie, maar eerder op die draer of draers van boodskappe van hoop. Dié tema word reeds in die openingsgedig in die vooruitsig gestel, waar die môrester die opdrag kry om deur die donker te kyk na waar “duister soos ’n vlermuis / vlug voor die nag hom verlaat.” Alhoewel die nag, donkerte, pyn en ellende die grondstof van baie gedigte is, word hierdie gegewe as die vertrekpunt na iets anders gesien, soos Plato se grot  in die gedig “In die begin …”. Hier, “waar misteries teen die wand flikker”, het die spreker reeds “voorspooksels” gekry  van sy taak. Uit hierdie donker maar veilige ruimte word die mens van sy geboorte af  met al sy erflike belastheid gestoot om met sy woorde die wêreld te verken, sy ervarings op te teken en ’n boodskap oor te dra. Saam met ander bodes, soos engele, heiliges, skeppers en geliefdes verken die bundel oorloë, rampe en pyn, maar ook liefde, medemenslikheid en skoonheid. Ten slotte bely die digter dat al sy vermoëns net “ten dele” is, maar dat hy wel verskans is teen die pyn van ’n geknakte liggaam “tot die volheid my / onverhoeds verras.”

Die bundel bevat ’n aantal knap vertalings uit die werk van die Griekse digters Konstantinos Kavafis en Giorgios Seferis, wat in aansluiting met die temas van die digter se eie werk deur die bundel versprei is.

Oor die outeur

Cas Vos het reeds sewe digbundels op sy kerfstok en het naas poësie ook teologiese publikasies die lig laat sien. Sy vertaling uit klassieke Grieks, Fragmente van die Ilias (2014), sy mees onlangse literêre werk, is goed deur die kritiek en die publiek ontvang.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R180.00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.