Boek: ‘Voorouer. Pelgrim. Berg.’ – Ingrid Winterbach

Ingrid Winterbach

ʼn Vrou, Katerina Steenkamp, haar oog ferm op die berg, gaan op ʼn aanlyn pasmaat-webwerf (dating site) en ontmoet mense met onverwagse gevolge. ʼn Man, sy kop vol apokaliptiese frases, patrolleer die strate sonder enige sigbare voorneme of doel. ʼn Ander man hou die naghemel dop en wag op die koms van ʼn elliptiese tuig. Nog ʼn vrou, aan die einde van haar lewe, besin oor haar huwelik, en die lewens van haar drie susters.

Voorouer. Pelgrim. Berg. is ʼn uitdagende roman, wat dui op vernuwing in Ingrid Winterbach se werk.

Oor die skrywer

Winterbach is op 14 Februarie 1948 in Johannesburg gebore. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Florida en behaal in 1969 ʼn BA-graad in die skone kunste aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Daarna het Winterbach haar honneursgraad in Afrikaans en Nederlands ook by Wits voltooi en in 1974 verwerf sy ʼn MA-graad in dieselfde vakgebied, onder leiding van DJ Opperman, aan die Universiteit van Stellenbosch (US).

Winterbach was later ʼn onderwyser, verslaggewer by Die Burger en vir 13 jaar dosent in die kunsdepartement van die US. Sy het ook as dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van KwaZulu-Natal gewerk en skryf en skilder sedert 2002 heeltyds.

Haar eerste roman, Klaaglied vir Koos, het in 1984 onder die skuilnaam Lettie Viljoen verskyn. Daarna is vier boeke onder haar eie naam uitgegee. Karolina Ferreira is in 1994 met die M-Net-prys bekroon en in 1997 met die Ou Mutual-prys. Die Hertzogprys vir prosa word in 2004 aan haar toegeken vir Niggie. Winterbach se agtste roman, Die boek van toeval en toeverlaat, is in 2007 met die M-Net-, WA Hofmeyr-, en UJ-prys vir skeppende skryfwerk bekroon.

Prys: R345,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.