Boek: Waar die son omdraai

Waar die son omdraaideur Vita du Preez

Waarom doen mense vrywillige werk? Sinisme omring dikwels die hordes vrywillige werkers in Afrika en talle mense sal vir jou sê dat daar is in die NRO-veld net drie kategorieë is: Vlugtelinge, Sendelinge en Huursoldate.

Thea is ‘n vlugteling.

En Matt Barnard? ‘n Verwarde sendeling? ‘n Huursoldaat? Of hardloop hy ook maar weg? ʼn Huursoldaat is hy nie, dit kom Thea gou agter, maar wat dan?

Thea Jonker beland met malaria in die hospitaal waar Matt werk. Thea, ‘n gewilde TV-aktrise, se loopbaan onlangs kortgeknip wanneer sy in ‘n motorongeluk betrokke is. Haar voorkop kry sleg seer en die litteken laat haar weghardloop. Sy besluit om vrywillige opheffingswerk in Mosambiek te gaan doen, waar haar pad met dokter Matt Barnard s’n kruis.

Matt Barnard, ‘n plastiese chirurg, het egter sy eie duiwels om te besweer. Hy is ontnugter na ‘n bitter egskeiding en hy twyfel aan sy geloof, wat altyd ‘n integrale deel van sy menswees was, wanneer een van sy pasiënte sterf. Matt besluit om by ‘n Benediktynse klooster naby Vilanculos te gaan besin en hopelik helderheid oor sy pad vorentoe te kry.

Thea en Matt weet dus uit die staanspoor dat daar nooit meer as ‘n vriendskapsverhouding tussen hulle kan wees nie. Wat ‘n mens weet en wat jy voel is egter nie altyd dieselfde nie en hulle raak vlugtig in ‘n liefdesverhouding betrokke.

Matt is reeds in die klooster wanneer Thea uitvind sy verwag. Thea besef dat ma-wees die belangrikste rol is wat sy ooit sal vertolk. Om die beste ma te wees wat sy kan, sal sy egter moet terugloop op die pynlike paaie van haar eie kinderjare.

Wanneer Matt en Thea se paaie uiteindelik weer kruis, is albei gelouterde mense wat gereed is vir ʼn nuwe begin saam met die tweeling wat hulle verwek het.

Waar die son omdraai is skaamteloos geskryf om as liefdesroman te vermaak. Tog, soos soveel ander goeie boeke deesdae, is hier ‘n denkende skrywer wat haar karakters se ontwikkeling so menslik maak, dan ‘n mens nie anders kan as om iets by hulle te leer nie.

Oor die outeur:
Vita du Preez se eerste romanse, As Sterre Blom, het in 1996 verskyn terwyl sy voltyds as argivaris by die WNNR gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen verskyn. ‘n Persoonlike gunsteling was Skuiling van die Hart, ‘n historiese roman, wat tydens die Boereoorlog afspeel. ‘n Man vir Mia was ‘n finalis vir die LAPA-Liefdesromansetoekenning 2005/2006.

Nadat sy in 2002 Kaap toe verhuis het, het sy vryskutvertaalwerk begin doen wat later ‘n heeltydse werk geword het. Sy het meer as sestig Mills & Boon en Harlequin Intrigue-titels vertaal. Na tien jaar in die bedryf het sy besluit genoeg is oorgenoeg en weer voltyds op haar eie skryfwerk begin fokus. Sy was lus vir ‘n nuwe uitdaging en het besluit om ‘n volwaardige liefdesroman aan te pak. Waar die son omdraai is die resultaat.

Vita kry haar inspirasie uit die alledaagse waar goeie en slegte goed met mense gebeur en wil karakters skep met wie moderne, Afrikaanse vroue kan identifiseer. Gelukkige eindes, glo sy, kan ons almal beskore wees as ons ons lewensvreugde en humorsin behou. Deesdae woon Vita saam met haar man in die Strand en wanneer sy nie skryf nie, maak sy tuin, lees en kuier saam met vriende.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R214-95*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

maryna minnaar ·

HI.kan julle my asb help ek is op soek na die volgende boeke wat ek op julle website gesien het.
1.)Droom Dokter van Amelia Strydom Tafelberg uitgewers
2.) n Lewe sonder beperkinge van cum uitgewers

Dankie vir die puik website

Maryna Minnaar Malelane

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.