Boek: Wadda van die woestyn

Cor Dirks

“Weer neurie die kind lispelend en vervelig herhaalde kere sy liedjie sodat Koestertjie, lamgeslaan soos sy daar staan, tot haar verbasing sien dat die slang sy bolyf laat sak totdat hy plat op die grond in al sy kronkelinge voor die kind lê. ʼn Vuil handjie word uitgestrek en net as dit aan die skubberige rug wil vat, pluk die reptiel homself weer orent en word die bak dreigend platgemaak. Dit is tog te mooi. Die laggie dawer deur die lug en dan word daar maar weer gesing. Weer bedaar die slang.”

Wadda van die woestyn verskyn oorspronklik in 1950. In die roman word ʼn wit driejarige seuntjie deur Boesmans, Boogspan en sy vrou, Koestertjie, aangeneem nadat die skip waarop hy, sy tweelingboetie en hulle ouers reis byna op die rotse loop. Wadda (ʼn verdraaiing van sy doopnaam “Waldo”) toon ʼn besondere aanvoeling vir en beheer oor die plante- en dierelewe van die Namib-woestyn. Wanneer hy ouer word, word hy ʼn leier en legende onder die inheemse bevolking.

Die verhaal neem ʼn onverwagse  wending wanneer Wadda ʼn soekgeselskap, op soek na legendariese skatte, teëkom en uitvind waar hy werklik vandaan kom.

Oor die outeur

Cor Dirks is op 28 Februarie 1911 op ʼn plaas naby Volksrust gebore Vanaf 1929 bekwaam hy homself as onderwyser aan die Potchefstroomse Universiteitskollege en Potchefstroomse Normaalkollege. Hy verwerf verder ʼn MA in Geskiedenis in 1937. Dirks is bekend vir sy jeugverhale, veral die gewilde Uile-reeks. Hy skryf egter ook avontuur- en speurverhale, soos byvoorbeeld Wadda van die woestyn. Hy is op 15 Oktober 2000 oorlede.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R160,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

dries ·

As kind al die Uile boeke deurgedraf, ek onthou nog van die karakters, Phillip, Barry, Vaatjie Jorsie en ek dink Hennie. As ek reg onthou het Wadda ook in die Uile boeke te voorskyn gekom..

Lukas ·

Wie het nie daardie tyd die Uile boeke gelees nie? Dit was in die sestiger jare. En ja, Wadda was ook deel daarvan. Cor Dirks en Dok Immelman was my gunsteling skrywers!

Tanja ·

Wadda van die Woestyn was die eerste boek wat ek in Laerskool gelees het en my liefde vir lees wakker gemaak het. Was ‘n ongelooflike ervaring.

dries ·

Doc Immelman, seker al sy boeke gelees. En wie onthou PJ Schoeman se reeks oor Fanie? En FA Venter se Wit Umfaan?
Leker dag vir almal.

Haan ·

Legendariese Afrikana! Wadda was ook in “die Uile in die Kalahari” met sy mak hiënas as ek reg onthou

dries ·

Dan was daar Dolf van Niekerk se Die Son struikel.. Ek dink die hoofkarakter was Lafras?

dries ·

gou gaan google, die hoofkarakter was Diederik Versveld. Die jare stap aan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.