Boek: Wat die hart van vol is

wat die hart van vol is

Peter Veldsman, met Elmari Rautenbach

n Wydlopende herinneringsreis, deurspek met staaltjies, deur een van ons land se fynkospioniers

Met erfeniskos wat deesdae internasionaal hoogmode is, staan een kok uit: Peter Veldsman. As enigste kind op ’n plaas in die Klein-Karoo het Peter ’n fyn waarnemingsvermoë en sin vir humor ontwikkel. Die resultaat is eindeloos vermaaklike stories oor die kos en mense in sy lewe, van sy dae as kosredakteur van die tydskrif Sarie, waar Peter twee generasies Afrikaanse vroue voor die stoof touwys gemaak het, toe as kosskrywer van Rapport en, uiteindelik, as “Mister V”, eienaar van Emily’s, waar hy hom amper 20 jaar lank beywer het om van streekskos fynkos te maak en só ’n formidabele restaurant-nalatenskap gevestig het.

Baie van die stories is snaaks. Ander is soet-nostalgies. Sommige kyk eerlik na kwessies ná aan sy hart, soos gay-wees en die kerk. En tog, al het hy al vir bekendes en selfs beroemdes gekook en die wêreld deurkruis op soek na nuwe smake, is dit sy tante Julia en haar “koskys” wat hy steeds die hel­derste voor die oog roep, sy Skotse ouma, en die dag toe hy as ’n vierjarige op sy oupa se plaas in die Klein-Karoo die eerste keer ’n doukomkommer tussen sy tande geknars het…

Nostalgies, humoristies en hartroerend – ’n boek wat jou terugvat na Ouma se kombuis, maar dan ook die drumpel oor, na die wye wêreld daarbuite.

Peter is die skrywer van 11 suksesvolle kookboeke en meer as 20 ere-toekennings is aan hom gemaak vir die gehalte van sy werk. As die eienaar en sjef van Emily’s het hy top-10 toekennings ontvang, is plaaslik en internasionaal vereer, en sy eetplek in die Victoria & Alfred Waterfront is as Restaurant van die Jaar aangewys.

Sy kosopleiding in Duitsland en Frankryk lei tot die opening, saam met Lesley Faul, van die eerste cordon bleu-sjefskool in private besit in die land, en hy word later voorsitter van die Culinary Circle of South Africa.

As ’n outobiografie is die boek met verbasende eerlikheid geskryf en geen doekies word oor sy persoonlike lewe of gay-wees omgedraai nie.

Oor die outeur:

Peter Veldsman het die heel eerste Galliova-toekenning as beste kosskrywer ontvang – eers vir Sarie en later Rapport. Ná opleiding in Duitsland en Frankryk vestig hy hom met sy restaurant Emily’s, ’n kookklub en ’n kookskool as een van die pioniers van plaaslike fynkos. Elf kookboeke verskyn uit sy pen, en sy bekronings – plaaslik en internasionaal – sluit in talle vir sy restaurantwynlys, ’n eerbewys van die internasionale Chaîne des Rôtisseurs en ’n internasionale Gourmand-prys vir sy boek ’n Mondvol lekker.

Elmari Rautenbach is ’n bekroonde joernalis en tydskrifredakteur. Sy was onder andere redakteur van Insig en die eerste nasionale boekeredakteur van die Afrikaanse dagblaaie. Benewens haar skryfwerk is sy ook inhoudsvervaardiger vir Kwêla op kykNET en hoof van die US Woordfees se boekeprogram.

Uitgewers: Penguin Random House
Prys: R230-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

stephanus jesaja Heunis ·

Ek Sal graag die boek wil lees Omdat dit oor en van my tuis streek is!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.