Boek: Wat is ʼn Dingeth?

Klara Klein het alles wat sy moontlik kan begeer. Maar alles is nie genoeg nie. Sy wil nog en nog en nóg goed hê! Op ʼn dag besluit Klara sy wil ʼn Dingeth hê, maar daar is net een probleem: Wat is ʼn Dingeth?

Mnr. en mev. Klein sal enigiets doen om hul dierbare dogter gelukkig te hou, selfs al beteken dit hulle moet by die kelder onder die biblioteek ingaan om ʼn antwoord in die geheimsinnige Monsterklopedie te kry. Hul desperate soektog lei na die donker dieptes van die oerwoudagtigste oerwoud waar die vreemdste vreemde dierasies lewe.

Dingeth is deur David Williams geskryf en Kobus Geldenhuys het dit na Afrikaans vertaal. Tony Ross en Quentin Blake is die illustreerders.

Oor die skrywer

Meer as 25 miljoen eksemplare van Williams se boeke is al verkoop, en is sover in meer as 53 tale vertaal – Afrikaans ingesluit.

Mr Stink (Mnr. Stink, 2016), The Boy in the Dress (wat in 2017 as Die seun in die rok by Protea verskyn het), Gangsta Granny (Ouma is ʼn kroek, 2015) en Billionaire Boy (Boudebiljoenêr, 2016) is aangepas vir Britse televisie. Ratburger (Rotburger, 2015) en Demon Dentist (Die tandeterroris, 2017) het albei die National Book Awards se kinderboek van die jaar in Brittanje gewen. Dit is geen verrassing dat Williams in dieselfde asem as sy held Roald Dahl genoem word nie.

Oor die illustreerders

Ross is ʼn suksesvolle kinderboekillustreerder wat bekend is vir titels soos Harry the Poisonous Centipede deur Lynne Reid Banks, en die Little Wolf-reeks deur Ian Whybrow.

Blake is een van Brittanje se geliefdste illustreerders en spotprenttekenaars. Hy is veral bekend vir sy samewerking met skrywers soos Roald Dahl, en sy illustrasies het verskeie pryse verower, wat die Hans Christian Andersen-prys vir illustrasie insluit.

Oor die vertaler

Geldenhuys is bekend vir sy kinderboek­vertalings van skrywers soos JK Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat, en in 2018 vir MG Leonard se Kewerknaap. In 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het. Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasieprente vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer Geldenhuys nie besig is met vertaalwerk nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater, Binnelanders en Suidooster.

Prys: R220,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by
Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.