Boek: Wat Werner doen met sy drie miljoen

Tertius Janse van Rensburg

Wat sal jy doen as jy die Lotto wen?

Dit is die vraag wat Werner, TC en Einstein hulself een pouse afvra. Soos die meeste gr. 9-seuns, droom hulle oor sportmotors en private vliegtuie. Vir die grap besluit die drie seuns om regtig elkeen ’n Lotto-kaartjie te koop. Hulle vat vir Oupa Ig (Werner se oupa wat Alzheimersiekte het) om “roomys” te koop, en sonder dat hy besef wat aangaan, speel hulle die Lotto. Dan gebeur die onverwagte: hulle wen wraggies meer as R3 miljoen! Werner voel baie skuldig oor hoe hulle sy siek oupa misbruik het, en hulle besluit om nie die geld te eis nie, maar dan verloor Werner se ma haar werk. Oupa Ig se gesondheid begin agteruitgaan, en Werner is baie bang sy ma trou met die nare oom Daan. Nou begin die groot uitdaging: sy ma glo dobbel is doodsonde. So hoe op aarde gaan hulle die geld by haar uitkry?

Tertius Janse van Rensburg, skrywer van Wat Werner doen met sy drie miljoen, is in 2019 aangewys as die beste debuutskrywer van Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie.

Oor die skrywer

Janse van Rensburg is ’n siviele ingenieur van beroep, wie se linker- en regterbrein al sy hele lewe lank in oorlog verkeer. Vir dekades het sy linkerbrein die oorhand terwyl hy eers vir Transnet geboue bou en later ’n wiskundeonderwyser en -dosent is. Na sy aftrede begin sy regterbrein ’n paar veldslae wen, en hy begin skryf. Hy publiseer ’n paar novelles en kortverhale in tydskrifte, maar sy groot deurbraak kom toe hy in 2019 as die beste debuutskrywer in Lapa se jeugromankompetisie bekroon word.

Prys: R190,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.