Boek: Weermagvroue se onsigbare oorlog teen geloof, hoop

Maretha Maartens

Klankgrens is ʼn verhaal oor die onsigbare oorlog teen geloof en hoop. Dit gee ʼn stem aan weermagvroue en word eindelik ook ʼn spreekbuis vir vroue wat nog nie vantevore met hulle mans hieroor kon praat nie.

Die Weermag, die noodlot, die sisteem — het ʼn man en beskermer, ʼn mens wat ʼn morele leier kon gewees het, van my gesteel. Die man op ons dubbelbed kon enigiets gewees het, enigiets. Maar jy moes drink om die oorlog in jou kop beëindig te kry. Die dampe van die drank in die vertrekke van ons huis was oorlogsdampe.

Magda Slabbert se man Rufus was jare gelede ʼn beroepsoldaat in die Bosoorlog en hy het onlangs as regiment-sersant-majoor (RSM) van 1 Spesiale Diensbataljon (1SDB) in Tempe afgetree. Sy het haar lewensverhaal aan Maretha Maartens vertel en dit het sowat drie jaar geneem om die boek te voltooi.

“Ek het van die begin af vir Maretha met die skryf van my storie vertrou. Sy is werklik ʼn hartsmens wat nie bang is om onderwerpe aan te roer nie. Maretha noem ʼn ding op die naam en sy doen eers deeglik navorsing voor sy oor iets skryf,” het Slabbert in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel.

In Klankgrens leer ken die leser vir Jo en haar kinders en die stryd wat die vroue weg van die grens af gevoer het. Die boek word uit die oogpunt van weermagvroue vertel wat moes agterbly, aanhou, verstaan, en bowenal kop bo water moes hou.

“As die mans hulleself emosioneel aan ons moes verbind, sou hulle nie die werk as soldaat kon doen nie. Hy het dit nodig gehad om hom nie oor sy vrou en kinders te bekommer nie. Dit is my ervaring, maar ek kan nie namens al die vroue daarbuite praat nie.”

Klankgrens het pas by Luca, ʼn druknaam van Lapa Uitgewers, verskyn. Lees die volledige onderhoud met Slabbert hier op Maroela Media.

Prys: R220,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.