Boek: Wie gaan in 2019 regeer?

Outeur: Jan-Jan Joubert
Uitgewer: Jonathan Ball Publisers

In die plaaslike verkiesing van 2016 is die ANC bloedneus geslaan toe hy drie metrorade aan die opposisie moes afstaan. Gaan die verdeelde regerende party onder Cyril Ramaphosa kan verenig en in 2019 ’n meerderheid by die stembus behaal? Of gaan die DA en die EFF hul groot ideologiese verskille kan oorkom om die ANC uit die kussings te lig?

Sedert Jacob Zuma as president bedank het, het Suid-Afrika se politieke landskap dramaties verander.

Die gesoute politieke joernalis Jan-Jan Joubert kyk na alle moontlike scenario’s en neem die leser agter die skerms na waar die geheime politieke smouswerk plaasvind. Hy oorweeg al die beskikbare opsies vir politieke partye in die aanloop tot die volgende verkiesing. Sal die ANC ’n koalisie vorm om in beheer te bly? En wat is die kans dat dié party na die EFF sal draai om meer steun te werf?

Een ding is seker – ooreenkomste sal aangegaan word. Die uitslae van plaaslike en tussenverkiesings wys vir Joubert dat die volgende verkiesing die eerste in 25 jaar kan wees waarin geen party ’n volstrekte meerderheid behaal nie.

In eksklusiewe onderhoude deel politieke leiers ook hul standpunte oor die belangrikste kwessies wat burgers en partye verdeel – of dalk kan verenig.

Dié boek is ’n opwindende analise van wat in Suid-Afrika se onmiddellike politieke toekoms kan gebeur. Dit is skerpsinnig geskryf en bied fyn waarnemings oor bekende politici.

Oor die outeur:
Jan-Jan Joubert doen al sedert 2001 verslag uit die parlement. Hy was vantevore politieke redakteur van Die Burger, Beeld en Rapport en ook adjunk-redakteur: politiek, parlementêre sake en meningstukke vir die Sunday Times. Hy berig tans uit die parlement vir Maroela Media.
Joubert is ’n gereelde gas op radio- en televisieprogramme soos Kommentaar, asook Monitor en Spektrum, op rsg, en op kykNET se Verslag in gesprek met Waldimar Pelser.
Hy gee ook gereeld klas in politieke joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en ander instellings.

Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
Prys: R245-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.