Boek wil mense help om doelgerig te lewe

Foto: Maroela Media

Liesel Krause-Wiid, Lynette Beer, Wouter Snyman, Coenie Schoeman en Kobus Neethling. Foto: Maroela Media

Die lewe is nie altyd maklik nie, maar vir sommige mense is daar ʼn tekort aan passie, en ʼn gevoel van doelloosheid. ʼn Boekbespreking wat gisteraand in Pretoria aangebied is, het juis op dié onderwerp gefokus.

Die boek Ek wil. Ek kan. Ek sal. spog met skrywers wat kenners is in verskillende velde en fokus daarop om mense leiding te gee om ʼn doelgerigte lewe te lei. Jannie Putter, Lynette Beer, Wouter Snyman, Liesel Krause-Wiid en Kobus Neethling deel hul kennis in dié boek en leer mense om hulself beter te leer ken, hul passie te ontdek en hul Godgegewe taak uit te leef. Coenie Schoeman, uitgewer van Carpe Diem Media en tydskrif Finesse, het as gesprekleier opgetree.

“Baie mense wil verander, maar hulle weet nie hoe nie, of het net nie die moed nie,” het dr. Kobus Neethling, ʼn internasionale kreatiwiteitskenner, gesê.

Wouter Snyman, stigter en uitvoerende hoof van die finansiëledienste-maatskappy attooh! het dié stelling bevestig en gesê mense sit in ʼn gemaksone, te bang om ʼn skuif te maak of gee hul omstandighede die skuld.

“Daar is baie mense wat ʼn lewe lei sonder om te weet wat hulle doel in die lewe is. Die Here het vir ons elkeen ʼn taak gegee. Dit is maklik om vas te kyk teen jou tekorte, maar dit neem eienaarskap weg,” sê Snyman gesê.

Lynette Beer, motiveringsspreker en stigter van Seeds of Inspiration, het gesê ʼn mens moet eers jouself beter leer ken om sodoende te weet wat jou sterk eienskappe is. Beer meen elke persoon het ʼn ingebore temperament en wanneer jy jou beste kwaliteite ken, kan jy dit gebruik om meer doelgerig te lewe. Haar boek, Watter kleur is jou persoonlikheid? wat ook tydens die bekenstelling bespreek is, is ʼn hulpmiddel om deur middel van ʼn maklike toets te bepaal watter “kleur” jou temperament is.

“Daar is ʼn klomp dinge wat jou as mens vorm, soos opvoeding, maar hierdie verskillende temperamente is slegs riglyne om jouself en die mense rondom jou te verstaan. Ons mag dit nie gebruik om bordjies om mense se nekke te hang nie,” het sy beklemtoon.

Liesel Krause-Wiid het tydens die gesprek klem gelê op die mag van geloof en gesê hoewel ʼn mens nie vry is van die gevolge van jou keuses nie, jy wel op God vertrou.

“Ek gee my beste, maar vertrou op God en nie myself nie. Wanneer ek swak voel, gee my geloof my die nodige krag,” het sy gesê.

Die boek gee ook aandag aan die volgende onderwerpe:

  • Neem risiko’s
  • Volg jou unieke passie
  • Baklei vir wat jy wil hê
  • Negatiewe emosies maak jou siek
  • Praat positief oor jou lewe
  • Leer uit jou foute en beweeg aan
  • Maak seker jou lewe het balans

Kry ʼn kopie van albei boeke by die Voelgoed-winkel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frikkie ·

Daar is niks wat ek as mens kan doen of spreek wat dinge kan verander nie. Mense moet terug keer na die basics van Christenskap. Die Woord is Jesus Christus en Hom as die gekruisigde, plaas jou fokus en geloof daar in en dan kan die Heilige Gees die werk doen. Ons fokus is op boeke en mens praatjies en moet terug kom Woord toe. GELOOF GELOOF GELOOF en al die dinge sal in plek val. Ons verandering lê in Jesus en wat HY vir ons aan die Kruis gedoen het. Niks wat ons doen behaag God nie, maar ons Geloof in SY klaar afgehandelde werk aan die Kruis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.