Boek: ‘Wild’ en ‘Klippe wat val’

Philip Rademeyer

Philip Rademeyer het in Wild en Klippe wat val stories wat ʼn sterk aanspraak maak op temas tussen mens en dier – die grys gebiede, die ooreenstemmings asook die botsings. En sy skrywerstem is diep gewortel in die natuur buite die metropole of voorstede. Met dié dramas het die opwindende jong dramaturg-regisseur teaterliefhebbers gaande.

Wild

In Wild word ʼn jong meisie, Vlooi, op ʼn plattelandse dorp in ʼn hok aangehou. Haar gedrag toon meer ooreenkomste met diere as mense en sy loop hande-viervoet. Dié drama ondersoek wat die mens méns maak.

“Die stuk vra vrae oor wat menswees nou eintlik is,” sê Rademeyer. “Is dit biologie, is dit taal, is dit hoe ons omgaan met ander mense? Watter eienskappe is eie aan die mens? En is menswees en ʼn menslike bewussyn beter as nie-menswees of om soos ʼn dier in ʼn aanhoudende, onbewuste teenwoordige tyd te lewe? Die stuk poog om menswees, die mens, vreemd te maak deur dit wat ons as vanselfsprekend aanvaar, te betwyfel.”

Klippe wat val

Kannetjie, ʼn verstandelik gestremde seun, woon in ʼn hondehuis op ʼn afgeleë plaas. Dit is ʼn soort “Kain en Abel”-storie. Kannetjie is gefassineer deur sterre en meteore en dit verwys na die klippe wat val. Sy boesemvriend Abrie keer ná amper 15 jaar terug. As seuns was hulle onafskeidbaar, nou is hulle vreemdelinge vir mekaar. Terwyl die twee terugdelf die verlede in verskiet die een ster ná die ander.

Oor die skrywer

Rademeyer is ʼn dramaturg, regisseur en ontwerper. Sy werk word gereeld by feeste en teaters oor die hele Suid-Afrika opgevoer. Hy het ook al vir radio en televisie geskryf, en sy rolprentdebuut gemaak as regisseur van die vollengtefilm Skemerson (Palama Productions). Plaaslik is sy werk al met verskeie toekennings en benoemings bekroon, onder meer by die KykNET Fiëstas, die Fleur du Cap-toekennings, by die US Woordfees en Aardklop, asook die Nasionale Kunstefees. In 2019 het Klippe wat val die ATKV-Woordveertjie vir beste dramateks gewen, en in 2017 is Wild vir dieselfde prys benoem.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R200,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.