Boek: Wilhelmina Radebe kom tuis

wilhelmina_radebe_kom_tuis_tweededeur Marinda van Zyl

‘n Belangrike roman oor swart moedertaalsprekers van Afrikaans is pas in ‘n nuwe,verbeterde weergawe uitgegee.

Wilhelmina Radebe, gebore in 1903, is die dogter van ‘n deelsaaier op die plaas Vijffontein. Haar oupa was Paul Kruger se agterryer en haar pa het op ‘n sendingstasie grootgeword. Dus kry sy ‘n Calvinistiese Afrikaneropvoeding . Haar kinderjare in die kliphuis met die roostuin is kommervry, maar wetgewing wat swart mense verbied om te boer, dwing hulle na Vereeniging se lokasie.

Al wat hulle oorhou van die sorgvrye plaaslewe, is die roosstiggies en twee geraamde foto ‘s: van haar ouers en ook van Wilhelmina en haar broer by ‘n wa vol mieliesakke. By elke nuwe tuiste plant Wilhelmina nuwe stiggies van die oorspronklike rose en hang die foto’s op.

Anders as haar snobistiese ma assosieer Wilhelmina haar met die onvolmaaktes. Sy raak bevriend met Pulane, die bierbrouer, en ontmoet so haar eerste man, ‘n tradisionele Sotho.Haar tweede man mishandel haar en haar seun Daniel. Daniel word op twaalf ‘n huisbediende en trek saam met sy werkgewers weg . Wilhelmina vind ontvlugting as
kleremaakster by Miss Emily. Wilhelmina se dogter Engela moet op sewentien trou, maar sy is in die wolke oor haar twee kleindogters, Mientjie en Margaret.

Toe Mientjie in die Sharpeville-slagting sterf en Engela ‘n beroerte van die skok kry, is Wilhelmina tydelik verbitterd, maar Margaret trou met ‘n goeie man en sy trek saam Sebokeng toe. Na Nicolas se dood versorg Wilhelmina haar agterkleinkinders Niklaas en Angie, terwyl Margaret as huisbediende werk.

Wilhelmina sien net die goeie raak in Maria, die prostituut en polisie-informant, wat haar elke dag kom bad en saam met haar Kentucky toe stap.

In 1984 speel haar agterkleinseun, Niklaas, ‘n leidende rol in die gewelddadige opstand in die Vaaldriehoek-townships. Die afgebrande Kentucky word vir Wilhelmina simbool van alles wat sy verloor; as die dominoblokkies eers begin val, kan niks hulle stuit nie.

Dis Maria wat Niklaas help ontsnap van die Veiligheidspolisie, maar sy word later deur die comrades verbrand. Wilhelmina-hulle word uit die huis in Sebokeng gesit. Hulle trek Evaton toe waar die seun van haar jeugvriend van Vijffontein vir hulle ‘n sinkhuis opslaan.

Wilhelmina vind weer vreugde in Angie se buite-egtelike kind , maar toe die verdwyn, laat Wilhelmina amper die onskuldige sangoma in sy rondawel verbrand. Dit bring ‘n kentering en Wilhelmina keer hulle lewe om deur vir ‘n wit poppie ‘n tradisionele kralerokkie te maak wat lei tot ‘n suksesvolle besigheid: Fusion Fashions.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R219-95*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.