Boek: ‘Winkel van wanklanke’ – Hennie Meyer

Hennie Meyer

Winkel van wanklanke is ’n versameling konkrete poësie – gedigte wat die grense van die gedig as teks en as visuele kunsobjek ophef. Dit is ’n versameling (“’n winkel”) van gedigte, maar is terselfdertyd een kunswerk met onderstaande komponente of bewegings wat tot die geheel bydra. Dit word gedeeltelik in kleur uitgegee, het ’n gedig wat in braille gedruk is, ’n gedig wat op papier gebosseer is, ’n gedig met papier wat in konsertinavorm met die hand deur die digter self gevou is, asook verskeie skakels na die skrywer se webwerf waar videogedigte besigtig kan word. Sodoende word die bundel as objek op papier beklemtoon, maar word die bundel ook na die ruimte buite die papier geneem.

Nie slegs die teks is dus in Winkel van wanklanke belangrik nie, maar oor die ruimte waarbinne dit geplaas word, hóé die woorde op papier gespasieer is, hoe die gedig vertoon, die effek en sensasie van die letters op papier. Deurlopend word die gedigte vergesel met humoristiese en sardoniese kommentaar, woordspel en fyn humor. Vele gedigte is kodes wat deur die interaktiewe leser ontsyfer moet word, en lei tot verskeie interpretasiemoontlikhede.

Winkel van wanklanke is Meyer se debuutbundel en hy skram nie weg daarvan om met sowel groot figure in die Afrikaanse digkuns as internasionale kunstenaars soos Jackson Pollock, Picasso en Yves Klein in gesprek te tree nie. Dit is veral ’n konseptuele bundel wat die idee van wat ’n bundel is of kan wees, bevraagteken.

Oor die skrywer

Meyer het hom die laaste dekade as digter van konkrete poësie in die Afrikaanse literêre stelsel gevestig. Sy gedigte het reeds op Versindaba, LitNet, Pomp, Ons Klyntji en Nuwe Stemme 4 (2010) verskyn. Winkel van wanklanke is sy debuutbundel.

Prys: R250,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die e-boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.