Boek: Woestynkombuis

Woestynkombuis_WEB.jpg
Louise van der Hoven

Onthou jy nog die dae toe kook sonder pretensie was, kos uit die veld gepluk en gegrawe kon word, die koolstoof nog in jou ouma se kombuishoek gepronk het met ’n warm pot koffie, en jy nog moes wag vir die melk om van die stalle af te kom vir ontbyt? Onthou jy nog die klassieke disse van vervloë dae, onopgesmuk en eerlik? Woestynkombuis is ’n huldeblyk aan daardie dae, toe kos nog kós was.

Woestynkombuis is geïnspireer deur ’n vrou sonder pretensie, ’n vrou met integriteit. Thea van Wyk het hierdie versameling resepte bymekaar gemaak oor die jare vanuit die harte en kombuise van haar vriendinne en familie en opgebou totdat dit saamgestel kon word as ’n volledige resepteboek.

Sommige disse in Woestynkombuis is ou familie-geheimenisse, en ander is sommer net maklike geregte wat opgetower is uit die bestanddele en kruie wat in die koskas beskikbaar was. Al lyk van die resepte vreemd, aanvaar maar dat hierdie sout-van-die-aarde Kalahari-vrouens op gevoel en emosie kook.

Thea se idee was nooit om die versameling resepte te publiseer nie. Dit was haar liefde vir die plaaslewe, die Namibiese duine, familiewaardes en kook wat haar dogter geïnspireer het om hierdie resepte in ’n boek te omskep. Ná ‘n eindelose stryd met kanker is Thea in April 2006 oorlede. Thea se dogter, Louise van der Hoven, die outeur van Woestynkombuis, dra die boek aan haar ma op.

Met 137 resepte uit die hart van Namibië, is Louise van der Hoven se Woestynkombuis ‘n moet vir elke versamelaar en kosliefhebber. Nie net is dié boek propvol liplek-lekker resepte wat jou sal laat terug verlang na jou kinderdae nie, dit is ook vol van die allermooiste foto’s en staaltjies oor die plaaslewe in Namibië.

Oor die outeur:

Louise van der Hoven het haar kinderdae deurgebring op hul familieplaas, Jagveld naby Aranos in Namibië, waar sy reeds haar passie vir kos ontwikkel het deur haar ma se kunste in die kombuis fyn dop te hou. Na skool het sy Verbruikerswetenskappe studeer aan Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom, waarna sy ’n Honneursgraad in Voedselwetenskappe aan UNISA verwerf het.

Sy het voedselkennis verwerf as produkontwikkelaar by onder andere Leo Foods in Kaapstad, en het vir twee jaar gespesialiseer in bakkery. Sy en haar man, Reyno, woon tans saam met hul dogter, Olivia, net buite Stellenbosch waar sy haarself uitleef as ’n voedselentrepreneur. Sy beplan reeds aan ’n opvolg vir Woestynkombuis!

Vir Louise is Woestynkombuis ’n simbool van hegte familiebande, samekoms en feesvieringe. Haar wens vir elkeen wat resepte uit Woestynkombuis vir hulle gesin of gaste voorsit is.

Vir Louiseis Woestynkombuis ’n simbool van hegte familiebande, samekoms en feesvieringe. Haar wens vir elkeen wat resepte uit Woestynkombuis vir hulle gesin of gaste voorsit is: “Mag hierdie resepte dieselfde vreugde by jou ontlok as wat ons klomp vir jare lank uit Jagveld se kombuis geput het. En mag ons altyd onthou dat ’n tafel vol kos niks is sonder geliefdes om dit mee te deel nie.”

Uitgewer: Fox and Raven Publishers
Prys: R350-00*
*Prys onderhewig aan verandering

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.