Boek: Woestynroos

woestynroos-voorblad.jpgVita du Preez

Op die oog af het Kato Klinge alles: Sy is aantreklik, intelligent en baie suksesvol in haar beroep as ingenieur, maar selfs ’n suksesgedrewe perfeksionis het moederlike instinkte. Kato wil ’n baba hê, maar daar is nie ’n spesiale man in haar lewe nie.

Stef Steenkamp, met wie Kato ’n jarelange platoniese vriendskap het, kom met ’n plan vorendag. Daar is reeds ’n baie spesiale band tussen hulle, want Stef se ma is tydens sy geboorte oorlede en Bea Klinge het Stef saam met haar eie babadogter, Kato, aan haar bors geneem.

Volgens Stef is dit die ideale oplossing dat hulle saam ’n baba sal hê en die verantwoordelikheid vir die baba se opvoeding deel. Hulle kind sal in ’n liefdevolle, standvastige omgewing grootword, want niks gaan ooit hulle vriendskapsverhouding vertroebel nie. Hulle kind sal ook nooit die trauma van ’n egskeiding beleef nie, want hulle gaan nooit die romantiese liefde en die trou-ding doen nie.

Stef kon Kato, wat alles volgens die boek doen, nog altyd ’n gat in die kop praat en haar oortuig om dinge te doen waaraan sy nooit eens in haar stoutste drome sou dink nie.

Kato stem in.

Om hierdie baba te verwek, moet Kato egter net so hard werk soos vir enigiets anders wat sy al in die lewe bereik het.

Stef hou van vroue, maar hy verkies T20-romanses met “girls” wat nie ’n man se vlerke wil knip nie. Kan so ’n man ’n kind verwek en steeds net platoniese vriende bly met die ma van sy kind?

Woestynroos is die tweede boek in ’n vierluik wat begin met Solitaire. Die reeks staan bekend as Die Vinkel & Koljander-vroue.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R199.00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.