Boek: Wynie: My bloed is blou

wynie

Wynie Strydom met Alita Steenkamp

Mnr. Kuschke van Laerskool Graskop het die klein rooikopseuntjie een kyk gegee en gesê: “Ek doop jou Wynie, want jou hare lyk nes die rooiwyn wat ek drink.” Mnr. Kuschke se aandeel in die lewe van Wynie Strydom is egter veel groter as bloot die naam Wynie. Dis by hom wat Wynie ’n onblusbare liefde vir die spel rugby geleer het.

Volg Wynie Strydom se pad van die klein dorpie Graskop in Mpumalanga tot by sy kantoor as spanbestuurder van die Blou Bulle, wat op die A-veld van Loftus uitgekyk het. Wynie was vir 38 jaar betrokke by Blou Bul-rugby en sy toewyding, harde werk en fokus op tradisies het gehelp om van die Bulle een van die beste rugbyspanne in die wêreld te maak.

Sy biografie is ook ’n verhaal van ongeëwenaarde vriendskappe en lojaliteit, van hoogtepunte en hier en daar ’n laagtepunt op die rugbyveld. Wynie: My bloed is blou is ’n boek vol heerlike rugbystories, maar ook staaltjies vanaf die kantlyn. ’n Boek wat geen rugbyliefhebber, ongeag vir watter span jy skree, sal kan neersit nie.

“Sedert Wynie Strydom in 1992 heeltyds by die Blou Bulle Rugbyunie begin werk het, het hy ikoniese status op Loftus Versfeld verwerf as die man met die rooi snor, poenskop, donkerblou baadjie, altyd op die punt van sy stoel en die eerste een wat opspring wanneer die Bulle ’n drie druk,” skryf Marco Botha in Beeld van 6 Maart 2013. Wynie Strydom het met die uitsonderlike manier waarop hy sy taak as die Bulle se spanbestuurder verrig het, behoorlik sy stempel afgedruk op Suid-Afrikaanse rugby. Aan die einde van 2013 het Wynie afgetree en sedertdien kry jy hom die meeste van die tyd op die gholfbaan, altyd besig om te kompeteer.

Oor die outeur:
Alita Steenkamp is ’n ervare vryskutjoernalis wat spesialiseer in profiele van bekendes. In 2009 was sy ’n medeskrywer van Hestrie Cloete-Els se outobiografie, My pyn, my glorie, en in 2010 het sy Mathys Roets se inspirerende lewensverhaal in Steeds Mathys vertel. In 2012 volg Loui Fish se lewensverhaal, Onsinkbaar, uit Alita se pen en in 2013 die lewensverhaal van Veronica van Vollenhoven, Veronica: Die kleur van liefde. Benewens skryf is rugby een van haar groot liefdes.

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R220-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.