Boek: ‘ Z-A-K 4: Die geheim van Zenkion’

Theresa van Baalen

Die lang reis na die planeet Zenkion is uiteindelik verby, maar vir Mitch Wilson is dit ʼn antiklimaks omdat sy beste vriend, Lionel, dit nie saam met hom tot op Zenkion gemaak het nie. Min weet hy dat hy nog nie die laaste van Lionel gesien het nie. Is die beweringe waar dat die mense van Deltaville iewers op Zenkion aangehou word? Sal Mitch en Lionel dit regkry om hul gesinne weer te vind, en is Imke se Aarde-ouma ook daar?

Imke se pad kruis onverwags met die van haar pa, Drogan. Gaan hy haar probeer verhoed om saam met Mitch-hulle terug te gaan Aarde toe as alles uiteindelik verby is? Wat gaan eintlik op Zenkion aan, en hoe pas die Aardbewoners in die prentjie?

Z-A-K: Die geheime van Zenkion is ʼn wetenskapfiksie- en nabye toekomsverhaal en die laaste boek in Theresa van Baalen se ZAK-reeks. Beleef die avontuur saam met die drie vriende en vind uit hoe die laaste stukkies van die legkaart inmekaarpas.

Oor die skrywer

Van Baalen woon al vir bykans 30 jaar op Port Nolloth, maar het tydelik verhuis na Hermanus ter wille van haar jongste seun se hoërskoolloopbaan. Sy het op nege al besluit dat sy ʼn skrywer gaan word. Dit het gebeur nadat sy Enid Blyton se The Secret Seven gelees het. Sy is al met ATKV-kinderboektoekennings vereer en het die Tienie Holloway-medalje vir haar eerste prenteboek ontvang. Sy bly graag kreatief besig met kuns en handwerk.

Prys: R180,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.