Boekbekendstelling: Vier Taaldag met boek oor “die soetse taal”

Taalboek_voorbladFINAALKraal Uitgewers vier op 14 Augustus Taaldag by die oudste enkelmedium Afrikaanse skool in die land met die bekendstelling van ’n boek uit die pen van een van Suid-Afrika se vooraanstaande taalhistorici, Jaap Steyn. “Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare sal by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria bekendgestel word en verskyn ’n eeu ná die eerste taalwetgewing wat spesifiek vir Afrikaans gegeld het. Dié wetgewing het in 1914 van Afrikaans (en nie “Hollands” nie) die skooltaal van Afrikaanssprekendes gemaak.

Kom deel in ’n spesiale bekendstelling waar ’n droom vir die toekoms van Afrikaans deur die oë van verskeie prominente rolspelers in Afrikaans geskets sal word. Sprekers sluit in die taalkundige prof. Christo van Rensburg, die uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging Flip Buys en die sanger Chris Chameleon. Dr. Pierre Edwards, meer as twee dekades lank reeds hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool, sal ’n oorsig gee van die vestiging van dié eerste enkelmedium Afrikaanse skool in 1920.

“Ons gaan ’n taal maak” word beskou as ’n standaardwerk oor die geskiedenis van Afrikaans. Dit vertel die verhaal van Afrikaans se ontstaan as “kombuistaal” en hoe dit gegroei het tot ’n moderne taal. Dit begin by die 19de-eeuse koerant Die Afrikaanse Patriot en die beskeie boekies en toneelopvoerings van dié tyd en loop deur tot by vandag se kykNET, LitNet, koerante en tydskrifte, ons lewendige letterkunde en bruisende kunstefeeste. Dit vertel van terugslae, hoogtepunte, taalwette humoristiese gebeure en die groei van ’n taal deur die mense wat dit praat, sing, skryf en leef.

Die bekendstelling begin om 11:00 by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Lynnwoodweg, Pretoria. Om dié spesiale geleentheid by te woon, bevestig bywoning voor of op Maandag 11 Augustus by Ilze Nieuwoudt (per e-pos: [email protected]).

“Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare sal by die bekendstelling te koop aangebied word teen R395 per eksemplaar. Alle eksemplare wat vooraf bestel word (en ten volle betaal is) sowel as eksemplare wat by die bekendstelling aangekoop word, sal deur die skrywer geteken word. Om ’n bestelling te plaas, SMS “Afrikaans” na 34388.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.