Boeke: Kultuurvryheid en selfbestuur – keuses van klein groepe wêreldwyd

kultuurvryheid cover_3D

Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd deur dr. Heinrich Matthee. Foto: Verskaf.

Heinrich Matthee (redakteur)

Kulturele outonomie (selfseggenskap) is waarskynlik vir die meeste Suid-Afrikaners ʼn vreemde begrip, tog is dit internasionaal ʼn doelwit wat deur talle kleiner en geografies verspreide kultuurgemeenskappe nagestreef word. Hoewel Suid-Afrikaanse minderheidsgemeenskappe, soos die Afrikaner en die Khoi-San, kan aanspraak maak op staatkundige beskerming van hul identiteite, deins talle mense uit onkunde of weens politieke redes nog terug van die idees van kulturele outonomie.

Met toenemende druk wat op klein kultuurgroepe geplaas word en die gevare van kultuurassimilasie wat kulture direk beleef, lyk die droom van volle onafhanklikheid met ʼn eie grondgebied vir baie gemeenskappe na die enigste oplossing. Tog is dit onwaarskynlik dat state dié tipe afskeiding sonder meer sal toelaat. Maar watter alternatiewe is dan beskikbaar? Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd ondersoek juis hierdie alternatiewe.

Kultuurvryheid en selfbestuur plaas onder meer ook die fokus op die regstelsel wat onder Amerikaanse Indiane in die VSA geld, die miskenning van die Amazigh-mense se kultuur in Noord-Afrika, die situasie ten opsigte van die Turkmene in Irak sowel as die leefwêreld van die Hongaarse minderheid in die hedendaagse Roemenië. In elkeen van hierdie gemeenskappe is daar raakpunte met en lesse vir minderheidskultuurgroepe in Suid-Afrika.

heinrich-matthee

Dr. Heinrich Matthee. Foto: Verskaf.

Wat sê die kenners oor dié boek?

“Na my mening is die werk ʼn moet vir meningsvormers, beleidmakers, politici asook enigiemand wat belangstel in die stand van internasionale minderheidsregte en meer spesifiek die regte en aspirasies van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika.” – dr. Herman van der Elst, vakhoof: Politieke Wetenskap, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus.

Oor die redakteur en skrywers

Meer as ʼn dosyn internasionale kenners uit Suid-Afrika, Zimbabwe, Nederland, Vlaandere, Duitsland, Australië en die VSA was betrokke by die skryf van dié publikasie onder redaksie van die risiko-ontleder, kenner van Afrika-sekuriteit en gasnavorser by die Universiteit van Amsterdam, dr. Heinrich Matthee. Ander plaaslike kenners wat as medewerkers opgetree het, sluit in proff. Koos Malan, Danie Goosen, Louis du Plessis en Deon Geldenhuys sowel as raadslid Yagyah Adams.

Uitgewer: Kraal Uitgewers

Prys: R350.00*

*Prys onderhewig aan verandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wern ·

Ek kan nie sien hoe ons onder hierdie regering voort kan bestaan nie, ons sal net moet kyk na onafhanklikheid op een of ander manier. Ek hoop die boek gee goeie raad en dat dit leiers onder ons sal insireer om iets omtrent die probleem te doen.

Lampies ·

Selfbeskikking is die enigste uitweg. Ons is vasgevang in ‘n getallepolitiek-knyptang en slegs opsies soos Orania kan vir ons ‘n ontsnaproete uit meerderheidstirannie bied. Ons moet dit net gebruik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.