Boeke open wêrelde – en harte

Wêrleldboekedag-2

Karien Brits en Suzie Matlhola gereed om te gesels oor Wêreldboekedag. Foto: Verskaf.

Wêreldboekedag op 23 April word op verskillende maniere regoor die wêreld gevier. In Noordoos-Spanje is dit byvoorbeeld al vir jare die tradisie om mekaar op hierdie dag met rose en boeke te bederf – ’n roos vir liefde en boeke vir altyd. Die ATKV wou met ʼn nuwe tradisie begin om Wêreldboekedag te vier en twee ATKV-werknemers het verstom gestaan oor hoe die geskrewe woord wel wêrelde kan oopmaak.

Mercia Eksteen, die ATKV se kommunikasiebestuurder, het saam met Karien Brits, bestuurder vir taalaangeleenthede, op die vooraand van Wêreldboekedag hulle voorstedelike lewens agter diefwering en hoë mure verruil vir ʼn nag in Soweto, Gauteng se grootste township. Dié besluit is geneem te midde van die hartseer van xenofobiese geweld wat die land vandeesweek aan die gons het, en ten spyte van die taktvolle waarskuwings van besorgde kollegas oor wat alles moontlik kan skeefloop.

Eksteen en Brits wou graag in Soweto oornag om op Wêreldboekedag met openbare vervoer van Soweto tot in Randburg te ry en so van vroegoggend af reeds die vreugde van Wêreldboekedag met mede-landsburgers te deel deur die uitdeel van boeke en boekvoorlesings. Suzie Matlhola, hul kollega, sou hulle vergesel en het hulle genooi om die nag in Soweto deur te bring. Matlhola is wyd bekend vir die Saterdagskool wat sy die afgelope 16 jaar in Soweto bedryf waar sy haar liefde vir Afrikaans met oud en jonk deel. Matlhola het al twee ATKV-damestakke in Soweto gestig, en is ook die stigter van die ATKV se Vorentoe-tak in Soweto.

Die tipiese Soweto-gasvryheid van ATKV-tak Vorentoe se lede was soos balsem vir die twee oorwerkte Afrikaanse siele van Randburg, en daar is tot laat in die aand lekker gelag en gesels in en oor Afrikaans. Eksteen en Brits kan nie uitgepraat raak oor die rustige, byna plattelande atmosfeer wat hulle ervaar het toe hulle teen 22:00 ná die kuier na hul gasvrou se huis teruggestap het nie.

Wêreldboekedag-1

Passasiers het sommer dadelik begin die lees. Foto: Verskaf.

Mense wat in Soweto woon en in ander dele van Johannesburg werk, haal douvoordag reeds busse en taxis om betyds by die werk te wees, en stiptelik om 05:15 op Wêreldboekedag het die drie kollegas met hul kartondose vol boeke in die pad geval na die bushalte. Eksteen en Brits vertel dat hulle hartlik ontvang is op die bus en nadat die doel van hulle reis in Tswana verduidelik is, was hul mede-passasiers maar te gretig om te hoor wat in die boeke staan. Matlhola het tussen die voorlesery benadruk hoe belangrik dit is dat ouers weer vir hulle kinders moet voorlees, en dat ouers soms die televisie moet afskakel.

Nadat iemand iets in Suid-Sotho voorgelees het oor die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, het die passasiers spontaan saam begin bid – vir die land, en ook vir die dag wat voorlê. Daarna het die mense spontaan begin sing oor die liefde van God. Die twee kollegas is dit eens dat die twee ure reistyd kantoor toe verby gevlieg het, alles te danke aan boeke wat wêrelde oopmaak. En aan die groot Boek wat harte oopmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.