Boekefees bied drie dae se leesgenot in Jakarandastad

Skrywers en boekliefhebbers sal eersdaags stroom na Pretoria FM se splinternuwe ateljee in Loftus Park in Pretoria vir dié radiostasie se heel eerste boekefees wat van 12 tot 14 September sal plaasvind.

Luidens ʼn verklaring deur Pretoria FM, het dié radiostasie sowat ʼn maand gelede na hul nuwe ateljee in die Loftus Park-sentrum geskuif. Om dié nuwe tuiste saam met die gemeenskap te vier, het hulle besluit om ʼn boekefees aan te bied.

Dié boekefees, aangebied deur Pretoria FM in samewerking met die ATKV, bied drie dae se leesgenot waar feesgangers bymekaar kom om die land se bekende en gevestigde sowel as jong ontluikende skrywers se leesstof te ontgin en opnuut te waardeer.

Feesgangers kan talle boekgesprekke en paneelbesprekings bywoon. Jong skrywers kry ook die geleentheid om hul vaardighede saam met gesoute skrywers te slyp.

Die VVA-voorleeswerkswinkels en gratis leeskonferensie is ook ʼn goeie geleentheid vir ouers of onderwysers om by te woon en na verskeie kundiges se wenke en voorstelle te luister om lees vir kinders weer interessant te maak.

Kosliefhebbers kan uitsien na die gratis kosdemonstrasies in Afrikaans deur bekendes soos Herman Lensing, Armand Aucamp en Riana Mulder.

Hannes van Wyk is ook weer terug op die verhoog met sy drama Sê Groete vir Ma wat Vrydag 13 September om 12:00 in die Ooskerksaal aangebied gaan word.

Die fees sluit Saterdag 14 September af met ʼn spesiale vertoning van die rolprent Die verhaal van Racheltjie de Beer wat vertoon sal word op ’n groot skerm wat spesiaal by Loftus Park opgerig gaan word.

Die omroepers van Pretoria FM sal tydens die fees deurlopend met skrywers gesels.

Besoek Pretoria FM se webblad vir meer inligting oor dié fees. Sien ook die volledige program by: https://atkv.org.za/media/2596/boekefees_program.pdf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.