Boekehoek: Recce-beginsels werk!

the-team-secret-boek

Stadler en Burger se boek identifiseer die sleutelkenmerke van ʼn effektiewe span. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Het jy nog altyd gewonder hoekom jou organisasie sommige projekte en take suksesvoller afhandel as ander? Dit mag dalk iets te doen hê met die grootte van die span wat die projek hanteer het.

Spanne is die DNS van ʼn maatskappy of organisasie en as hierdie spanne nie optimaal werk nie, kan ʼn maatskappy nie sy doelwitte bereik nie.

Individuele spanlede neig ook om beter te presteer as hulle verantwoordelik voel vir die span se sukses en nie die weelde het om te verdwyn tussen die res van die spanlede in ʼn groter span nie. Dit word ook sosiale leeglêery (social loafing) genoem.

Dit is die gevolgtrekking van Anton Burger en Koos Stadler, wat die skrywers van die boek The Team Secret: Accelerate your Business with Special Forces Principles, is. Die boek is vroeër vanjaar deur Delta Books van Jonathan Ball Uitgewers uitgegee.

Burger het Stadler genader om saam met hom ʼn sakeboek te skryf nadat hy Stadler se eerste boek (oor sy ervaringe as deel van die weermag se Recces) gelees het.

In The Team Secret het Stadler sy ondervinding van 24 jaar in die Suid-Afrikaanse spesiale taakmag gebruik om in boeiende besonderhede te vertel van die lesse wat daar te leer is oor spandinamika in die spesiale magte en hoe die magte hul doelwitte bereik het.

Burger het met sy 21 jaar se ondervinding as spanleier in verskillende werkomgewings gewys hoe hierdie soort lesse en verhale van Stadler op die sakewêreld van toepassing is.

Die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte-eenheid het buitengewone resultate behaal met ʼn klein groepie elite-soldate in plaas van groter, konvensionele spanne. Dié boek se geheim is dat baie van die beginsels van toepassing is in die sakewêreld.

“ ʼn Klein span het ʼn baie beter kans om projekte doeltreffend te voltooi, volgens begroting en betyds.

“Daar is nie een spesifieke getal of ideale grootte vir ʼn span nie, maar die geheim is om die span slegs so groot te hou as wat die situasie toelaat – groot genoeg om die taak effektief af te handel,” het Burger gesê.

Stadler en Burger se boek identifiseer die sleutelkenmerke van ʼn effektiewe span. Dit verduidelik ook hoe om die regte spanlede te kies, hoe om ʼn etos om die span se beginsels te bou en hoe ʼn effektiewe span gelei moet word. Die beginsels in die boek spreek beide tot spanlede en spanleiers oor alle bestuursvlakke.

“Die hele idee van hierdie boek is juis kleiner spanne. As mens na die ontplooiing van spesiale magte wêreldwyd kyk, word dit altyd in kleiner spanne van tot agt mense gedoen – geselekteerde ouens wat ʼn spesifieke taak onder baie moeilike omstandighede moet uitvoer,” het Stadler gesê.

Kortom: Om jou besigheid uit te bou, moet jy jou spanne opknap en paraat hou!

Hier is Burger en Stadler se raad vir klein spanne om vinnig sukses te bereik:

  • Beplan saam: As die span ʼn doelwit gekry het, moet hulle saam beplan hoe om daardie doelwit te bereik.
  • Repeteer vooraf: Dit is belangrik om saam voor te berei oor hoe ʼn plan uitgerol of ʼn doelwit bereik gaan word deur, byvoorbeeld, nuwe sagteware buite die werklike produksie-omgewing te toets.
  • Eienaarskap: Elke persoon in die span moet eienaarskap kan neem. Dit doen jy deur die span klein te hou en gemotiveerde mense spesifiek vir elke taak te kies.
  • Hou jou oog op die doelwit: Baie keer gebeur dit dat wanneer die doelwit geïdentifiseer en die beplanning gedoen is, kom daar senior personeel wat dan van die span verwag om nog iets ekstra ook gou by te doen. “Dit kan dinge vinnig in chaos laat ontaard as die span se doelwitte van tien take na twintig vermeerder. Spanleiers en -lede moet kan nee sê vir ekstra take wat nie tot die suksesvolle lewering van die span se doelwit sal lei nie.
  • Uitvoering: Die span moet tot dié punt kan kom nadat die beplanning eers reg gedoen is. Dit is ook belangrik vir die span om elke dag hul vordering te bespreek, want dinge kan voorval of verander soos wat die take uitgevoer moet word.
  • Die krag van besluitneming: Die lede van die span moet vinnig besluite kan neem en uitvoer soos wat take verander om die doelwitte te bereik. “As die lede van die span dit kan doen, vloei die uitvoering van die span se take baie vinniger.”

The Team Secret het nog baie lesse, raad en wenke vir organisasies en maatskappye oor hoe om die ideale klein span vir ʼn taak of afdeling saam te stel. Die boek kan by Graffiti-boekwinkel of alle ander goeie boekwinkels aangekoop word.

  • Koos Stadler en Anton Burger, die skrywers van die boek The Team Secret het ook onlangs ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak. Burger en Stadler het met Esté Meyer Jansen gesels oor die sukses van klein spanne en ook ʼn paar wenke gegee oor die sukses van spanwerk op die beginsel van die soort spanwerk wat die spesiale magte oftewel Recces gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bosman ·

Hmmmm dit lyk mos nou vreeslik baie soos Jocko Willinck en Leif Babin se Extreme Ownership wat so paar jaar terug vir maande op die NYT se topverkoper lys was?

Kaptein ·

Die werklike geheim van Spesiale Magte is eerder die streng keuring voordat jy ingelaat word ;-)

Bul ·

Die beginsels het niks met recces uit te waai nie dit is kenmerke van ‘n goeie bestuursisteem wat deur ervare leiers toegepas word. Die beginsels werk of dit nou in die recces is of ‘n laerskool netbal span. Baie van die kamtige recce wyshede kom uit Sun Zu se boek van meer as 2000 jr terug genoem ” the art of war”…….. jammer die manne ontdek hom nou eers.

CG ·

Bul. Wat laat jou dink ” … die manne ontdek hom nou eers.”? Die Recces se grootste suksesse was al drie-vier dekades gelede (ons hoor maar net nou eens daarvan). Maklik om iets te skryf (in ‘n boek of op sosiale media); iets heeltemal anders om dit onder uiters moeilike (en gevaarlike) omstandighede te doen. Ek leer graag by diegene wat gewys het hulle kan DOEN!

Bul ·

Sun Tzu het die beginsels meer as 2000 jr terug “gedoen” . Hy was die mees suksesvolste militere leier van die Wu dynasty en het die beginsels in gevaarlik en wrede oorlog toegepas en het ‘n legendariese oorwinnings oor vyande opgebou selfs tot so punt dat die keiser hom nooit onderskat het nie. So dis maklik om op sosiale media aanmerkings te maak van ‘n onderwerp waarvan jy niks weet nie en terug te verwys na geskiedenis 30 jr oud. Als wat die boek van praat is reeds gedoen 2500 jr terug en laat my dink aan ex military die se pensioen opgeraak het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.