Pretoria spog binnekort met die eerste BoekeJol-fees wat einde Augustus in die hoofstad plaasvind. Die fokus van dié fees is die skryfwerk van Afrikaanse skrywers en rolprentmakers.
Die bekendstelling van die fees word gevier met ʼn Woord-en-musiek-aand in die Atterbury-teater op Donderdag 26 Maart om 19:00. Elna van der Merwe gesels met Deon Meyer oor sy nuwe roman, Ikarus.
Nic de Jager, die man wat die voorlesing van Ikarus se oudioboek gedoen het, kuier ook saam terwyl die musikante Jaconell Mouton en Mauritz Lotz die gehoor met bekende temaliedjies uit rolprente vermaak.
Daar is nog kaartjies beskikbaar vir dié vertoning waar woord en musiek mekaar ontmoet. Besoek Computicket om kaartjies te bespreek of stuur ʼn e-pos na [email protected] vir nog inligting.