Boekoorsig: Betereinder

Betereinder deur Schalk W van Heerden word deur Lux Verbi uitgegee.

Schalk W van Heerden, ’n predikant van Johannesburg, is ook die medestigter en voorsitter van Betereinders, ’n liefdadigheidsorganisasie. Schalk skryf: “Betereinders se andersheid is dat ons onsself, ten spyte van selfliefde, nie net as die oplossing sien nie, maar as deel van die probleem” (27). Die radio-omroeper en vryskutresensent Stefaans Coetzee reken Betereinders preek met dade dat ’n leefwyse van eenheid, vergifnis en liefde nie net moontlik is nie, maar ook lekker. Lesers word aangemoedig om ’n Betereinder-tipe mens te wees wat fokus op eenheid, in die groot sin van die woord.

Betereinder is ’n baie tydige en relevante publikasie in die huidige sosiale en ekonomiese bestel. Die boek handel oor naasteliefde en hoe Suid-Afrikaners saam kan staan en werk. Dit noop lesers om nie net eerlike selfondersoek te doen nie, maar om daadwerklik moue op te rol en brûe te wees in hierdie kosbare land aan die suidpunt van Afrika waarvan die bevolking so uiteenlopend en divers is. Die boek is propvol stories, lewenslesse en praktiese raad oor hoe ons mekaar ’n plekkie in die son kan gun. Dit laat mens glo dat ware transformasie teen alle verwagtinge in tóg moontlik is, verál as elkeen van ons bereid is om die eerste tree te gee. Schalk reken ’n eerlike erkenning van verskille en kompleksiteit is van deurslaggewende belang om onsself en ons land gesond en gelukkig te kry.

Barend le Grange, besigheidsman en veranderingsaktivis het net lof vir dié besonderse boek: “Schalk beskryf op ’n baie treffende manier hoe daar ’n verskil in mense se lewe gemaak kan word. Minder kla, minder kritiek (en verlammende skuldgevoelens) oor die verlede en hede, wat oorgaan in doen en saamwerk om die grootste uitdaging in Suid-Afrika aan te pak: die geweldige armoede. … Hy skram nie weg van die onderwerp van rassisme (die “groot olifant” in die Suid-Afrikaanse vertrek) en die uitdagings daarvan nie, maar gee praktiese raad en verklaar dat hy vrede kan maak met mense in Afrika wat anders as hy is.”

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, is eweneens positief oor Betereinder: “Schalk het kulture en grense oorgesteek en gee waardevolle advies vir die bou van verhoudinge en selfs vriendskappe wat wedersydse vertroue tot gevolg het. Die grootste les regdeur is een van wedersydse respek en begrip. Dit gee ’n basis vir hoop in die land.”

Betereinder beslaan 231 bladsye en daar is ook etlike wit-en-swart-foto’s wat die vertellinge treffend saamvat. Hierin vertel Schalk van sy liggaamlike en intellektuele reis “in Afrika in” wat gelei het tot ’n ongekende tuiskoms. “Hierdie ironiese tuiskoms aan die ander kant van enersheid is iets wat ek elke gesin gun: om in rus en vrede tuis te voel en te weet ons hoort en kan behoort in Suid-Afrika” (21). Hy beskryf homself as ’n Afrikaner met baie blootstelling. Hy was byvoorbeeld in sy dertigs doenig in 45 verskillende townships in Suid-Afrika, ver van ’n loopbaan en gemaksone. “Baie van my voorbeelde en stories sal vanuit daardie kontekste vertel word. My nuttigheid is dat ek ’n Afrikanerlaaitie is wat al goed agter die skerms geloer het en kan kom verslag doen” (22).

Ek het Betereinder as waardevolle leesstof ervaar en wens elke persoon in die land wil dit lees. Schalk se opmerking, “Ons sal net vrede kan ervaar wanneer ons vrede bring” (40), het my diep getref. Hy noem sy boek ’n “hoe-boek” en ’n “doen-boek”. Hy reken dat ons land unieke geleenthede bied om onselfsugtige dissipelskap te ontdek. “Ons kan gelyktydig integriteit in ons verhouding met Jesus bou en leer welkom voel tussen al ons landsburgers” (46). Betereinder se gepaste subtitel is: Wees die verskil.

Betereinder is by boekwinkels beskikbaar, maar jy kan jou kopie ook hier aanskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.