Boekoorsig: Krieket, kerrie en Gandhi

Krieket, kerrie en Gandhi – met Royal Enfields deur Indië, nóg ’n allerheerlike Voetspore-storie deur Johan Badenhorst word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Ek was sommer baie opgewonde toe Johan Badenhorst, bekende avonturier en skrywer, se jongste boek by my afgelewer word. Hoewel ek in my jonger dae die voorreg gehad het om so ’n bietjie te reis, is ek deesdae ’n leunstoelreisiger wat graag ander se reisverhale verslind. Ek geniet Badenhorst se gemaklike geselstrant veral. Sy reisboeke is altyd propvol relevante, wetenswaardige inligting en interessante staaltjies en vertellinge. Boonop is die teks altyd in ’n gemaklike geselstrant geskryf wat my laat voel ek maak die reise mee. En glo my maar, die reis deur Indië laat jou jou asem intrek, ophou, en dan weer stadig uitblaas, want dit laat jou nie onaangeraak nie.

Krieket, kerrie en Gandhi – met Royal Enfields deur Indië beslaan 160 bladsye en drie dele, naamlik “Die Classic”, “Die Thunderbird” en “Die Himalayan”. Daar is ook volkleurfoto’s deur Stefan Sonnekus waarin lesers hulle kan verlustig. Dit is die verhaal van ’n pa en seun wat in 2017 saam ’n avontuur op motorfietse aangepak het wat hulle vir altyd sal onthou. Natuurlik was hulle nie heeltemal alleen op die reis nie, want manne van die Voetspore-span het hulle met twee Land Cruisers ondersteun. Hulle was immers besig om ’n Voetspore-televisiereeks te maak.

Badenhorst en sy seun, Streicher, was elk op ’n Royal Enfield-motorfiets. Hulle was met ’n Sena-motorfietsinterkom verbind, ’n stelsel gemonteer aan hul valhelms. Badenhorst het vir 27 jaar nie motorfiets gery nie. Hy het wel sy seun belowe dat wanneer dié mondig word, hy vir hulle albei ’n motorfiets sou koop om saam Kaïro toe te ry. Daar kom toe die geleentheid om eerder Indië toe te gaan – sedert 1955 die tuiste van die ikoniese Royal Enfield (na bewering die oudste fabrikaat in die wêreld).

Dink net: ’n Reis reg rondom Indië in drie maande in die uitmergelende somershitte en tydens die moeson. Dan is daar ook die hoogste bergpasse ter wêreld. Badenhorst beskryf die reis as die ervaring van ’n pa saam met sy seun, eintlik maar sy beste pel, al twee op ysterperde, op ’n 12 500 kilometer lange tog deur Indië. “Op ’n motorfiets reis jy eintlik alleen, met jou eie gedagtes, en so nou en dan ’n gesprek met jou reisgenoot,” skryf hy. “[D]aar is sekerlik min plekke in die wêreld wat jou waardestelsel, jou prioriteite en jou lewensuitkyk so uitdaag, konfronteer en bevraagteken as drie maande op die Indiese subkontinent” (8).

Soos enige reis, was alles nie maanskyn en rose nie en daar was sommer vanuit die staanspoor uitdagings om die hoof te bied. Ek dwing myself om nie ’n paar ape uit die mou te laat nie. Skaf gerus die boek aan en verlustig jou in die vreemde maar wonderlike ervaring wat Indië en sy mense bied. Die boek is die lees werd. Onderwerpe soos byvoorbeeld ouerskap, rykdom, armoede en godsdiens kom na vore.

Meer oor die outeur: Johan Badenhorst is ’n televisiepersoonlikheid, programvervaardiger en avonturier. Hy is die eienaar van KewTV Produksies, die Voetspore-winkel en Voetspore Safari’s. Die volgende publikasies het al uit sy pen verskyn: Voetspore in Suid-Afrika 2 (2021),Voetspore in Suid-Afrika (2020), Voetspore op die ewenaar (2014), Voetspore: Agulhas tot Alexandrië (2013) en Voetspore: Casablanca tot die Kaap (2011).

Skaf gerus jou kopie van Krieket, kerrie en Gandhi – met Royal Enfields deur Indië hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.