Boekoorsig: Krygsgevangenekuns in die Anglo-Boereoorlog

Krygsgevangenekuns in die Anglo-Boereoorlog deur Vicky Heunis word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Dit het gevoel asof ek iets baie kosbaars in my hande hou toe ek hierdie besonderse publikasie vir die eerste maal deurblaai. Ek stem heelhartig saam met prof Fransjohan Pretorius wat skryf: “Dit ly by my geen twyfel nie dat hierdie werk besonder geesdriftig deur die leserspubliek ontvang sal word. Dit vul ’n belangrike leemte en is ’n kosbare bydrae tot die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner.”

Die uitgewersbrief lui: “Dis ’n boek vir enigeen wat in die Tweede Vryheidsoorlog belangstel, maar ook dié met ’n belangstelling in Suid-Afrikaanse volkskuns en Africana. Dit sal ’n pragtige geskenk maak vir liefhebbers van oorlogsgeskiedenis en kuns. ’n Versamelstuk wat met trots op enige boekrak sal pryk.” Die publikasie daarvan is moontlik gemaak deur ruim subsidies van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die L.W. Hiemstra Trust.

Hierdie aantreklike hardebladboek beslaan 191 bladsye en agt hoofstukke. Die hoofstukke se titels is: “Agtergrond oor die krygsgevangenekampe”; “Oorsprong, bepalende faktore en motiverings vir die vervaardiging van Boerekrygsgevangenekuns”; “Gereedskap en materiaal gebruik in die vervaardiging van Boerekrygsgevangenekuns”; “Die vervaardiging van Boerekrygsgevangenekuns deur spesialisvakmanne”; “Die betekenis van simbole en motiewe wat op Boerekrygsgevangenekuns voorkom”; “Voorbeelde van tipes Boerekrygsgevangekuns”; “Tentoonstelling, verspreiding en verkope van Boerekrygsgevangenekuns”; en “Die kultuurhistoriese belang van Boerekrygsgevangenekuns”. Die ryk oes eindnote en indrukwekkende bronnelys agterin is ’n aanduiding van die geweldige navorsing en kennis wat hierin gegaan het.

Wanneer ek ’n boek oor die geskiedenis en veral geskiedkundige kuns lees, blaai ek altyd heel eerste na die foto’s. Krygsgevangenekuns in die Anglo-Boereoorlog spog met dosyne foto’s en illustrasies in wit-en-swart sowel as kleur. Daar word by elke foto noukeurig aangedui waar dit vandaan kom. ’n Servetring wat J.H. Kruger, van 1907 tot 1952 ’n predikant in die Gereformeerde Kerke in SA, uitgekerf het terwyl hy ’n krygsgevangene in die Diyatalawa-kamp op Ceylon was, kom byvoorbeeld uit die privaat versameling van sy nasate en is afgeneem deur ene Drik Hoskin.

Die skrywer bespreek byvoorbeeld die faktore wat die aard en kwantiteit van Boere-krygsgevangenekuns beïnvloed het en die onderskeie motiverings en onderliggende dryfvere waarvoor die kunsvoorwerpe geskep is. Ook die beskikbare rou materiaal waarvan dit vervaardig is en die simboliek en inherente betekenis daarvan. Sy verduidelik ook meer oor die verspreiding en afsetgebiede vir die verkoop en uitstalling van die voorwerpe. Dit het glo onder meer kieries, portretrame, potlepels, penhouers, borsspelde en kleinighede om aan horlosiekettings te hang, ingesluit.

Ek beveel Krygsgevangenekuns in die Anglo-Boereoorlog heelhartig aan. Dis die ideale boek om saam met ouer kleinkinders deur te blaai, hulle meer te vertel van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) en ’n liefde vir die geskiedenis van Afrikaners by hulle te kweek.

Meer oor die skrywer: Dr. Vicky Heunis het aan die Universiteit van Pretoria studeer waar sy ʼn BA in Erfenis- en Kultuurtoerisme (2002), ʼn BHCSH in Erfenis- en Museumstudie (2004) en ʼn MHCS in Kultuurgeskiedenis (2008) behaal. In 2020 behaal sy haar doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Sy was van 2002 – 2008 die argief- en museumversamelingsbeampte by die Voortrekkermonument en Erfenisstigting. Vanaf 2009 is sy die versamelingsbestuurder by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke. Sy en haar man lewer gereeld demonstrasies in periodiese kleredrag by historiese herlewings.

Krygsgevangenekuns in die Anglo-Boereoorlog is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar maar kan ook hier bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.