Boekoorsig: ʼn Troostante se gids vir gesonder verhoudings

Elize Parker (Foto: Elize Parker/Facebook)

Elize Parker se splinternuwe boek getiteld Seks, skoonma’s en skuld – ’n Troostante se gids vir gesonder verhoudings word deur Naledi uitgegee.

Hierdie praktiese gids is propvol weldeurdagte raad en wenke vir diegene wat hulle verhoudings wil dokter. Parker se nugter lewensbeskouing, fyn humorsin en deernisvolle geaardheid maak haar die ideale persoon om ’n handleiding te bied wat reguit, plat-op-die-aarde en volhoubare advies bevat.

Die lokteks op die agterblad lui: “As ’n skrywer oor verhoudings vir tydskrifte soos Lééf met hart en siel en Sarie sowel as troostante vir Huisgenoot, het Elize Parker haar eie praktiese raad met deeglik nagevorste raad van kenners vermeng en as vertrekpunt vir gesonder verhoudings aan lesers gebied.” Om hierdie verhoudingsgids te lees is soos om die oor van ’n opregte vriendin te hê, iemand wat met deernis na jou luister, maar steeds reguit en sonder doekies omdraai jou met onpartydige raad bedien.

Seks, skoonma’s en skuld beslaan 149 bladsye en nege afdelings wat handel oor slaapkamerprobleme, ekse, affairs, skoonfamilie, egskeidings, vervreemding en familiekrisisse, die invloed van tegnologie op verhoudings, kinders en verslawing.

Ek het nie hierdie boek van begin tot einde deurgelees nie, maar wel met behoorlike aandag deurgeblaai en oral gelees waar iets interessant en leersaam my oog gevang het. Die hoofstuk oor ontrouheid met behulp van tegnologie is insiggewend. Net so die hoofstuk oor hoe om af te sien van drank, dwelms, pornografie en klein obsessies. Hoofstuk ses handel oor elf gebooie om families bymekaar te hou. Die derde gebod is dat gesinslede openhartige gesprekke met mekaar behoort te voer. “Vervreemding in families is dikwels die resultaat daarvan dat niemand ’n gelyke kans kry om hul saak te stel nie,” skryf Parker op bl. 84. “’n Bemiddelaar met ’n agtergrond in berading kan ’n gesprek tussen partye lei sodat ouers en kinders albei objektief na mekaar kan luister. … Sulke gesprekke kan meer lig werp op wat ouers en kinders van mekaar verlang.”

Dit is jammer dat die teks nie deeglik teksversorg is nie. Hier en daar het foutjies ingesluip. Dit bly egter ’n eietydse en broodnodige boek wat op elke gesin se boekrak hoort en hulle kan help om moeilike uitdagings die hoof te bied.

Meer oor die skrywer: Elize Parker is onder meer ’n mediabeampte en radionuus-omroeper. Sy spesialiseer ook in omgewingsjoernalistiek. Nie net is sy ’n skrywer van formaat met meer as 40 boeke – wat gesinsages, liefdesverhale en dagstukkieboeke insluit – op haar kerfstok nie, maar sy het ook die baie gewilde trooskolom, “Liewe Elize”, in Huisgenoot vir sewe jaar lank behartig. Sy is bekend as ’n bydraer op RSG se program Binnekamer en was ’n nuusleser op Radio Tygerberg. Sy woon in Kaapstad. Dit is haar passie om bewustheid te kweek oor bedreigde diere en klimaatsverandering. Sy nooi belangstellendes uit om by haar Facebook-blad, “Wildlife Crime and Rescue”, aan te sluit.

Bestel gerus jou kopie van Seks, skoonma’s en skuld hier of SMS liefde na 48423.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.