Boekoorsig: Ontmoet God in gebed

Esté Geldenhuys, ’n oud-omroeper en spreker, se boek getiteld Ontmoet God in gebed, word deur Lux Verbi uitgegee.

Die lokteks op die agterblad lui: “Mag die inhoud van hierdie boek vir elkeen wat dit lees ’n nuwe verstaan bewerk van die karakter van ons Vader, die offer wat ons Verlosser gebring het en die wonderbare kontak en kommunikasie wat die Gees van Christus vir ons bied.” Lesers kan, deur hierdie boek te lees, meer te wete kom oor wat gebed is, watter waarde ons daarin vind en ook hoe om te bid.

Ontmoet God in gebed beslaan 240 bladsye en is opgedeel in drie dele, naamlik Deel 1: Die God wat ons aanbid, Deel 2: Die wysheid van Andrew Murray en Deel 3: Kom ons raak persoonlik. Deel 1 verwys na die Evangelie van Johannes omdat hierdie Evangelie verduidelikings en gesprekke oor intimiteit bevat en fokus op liefde, verhouding en toeganklikheid. Deel 2 behandel rigtinggewende gedeeltes uit Andrew Murray se boek getiteld Met Christus in die skool van gebed, ’n boek wat nie meer in druk is nie. Deel 3 gaan oor getuienisse oftewel verhale wat getuig van God se grootheid en almag.

Geldenhuys skryf in die inleiding: “Ek loof ons Vader wat na ons hart en ons bedoeling en gesindheid kyk, ver meer as ons optrede. Mag die inhoud van hierdie boek ’n nuwe verstaan bewerk van die karakter van ons Vader, YHWH, die offer wat ons Verlosser, Yeshua, gebring het en die wonderbare kontak en kommunikasie wat die Gees van Christus vir ons bied.” Sy raai lesers aan om nie deur die inhoud te jaag nie, maar om die boek met die Bybel oop te lees en deur die selfstudie skrifgedeeltes te werk. “Lees die Boek met die begeerte dat die Gees van waarheid die bedoeling van dít wat jy lees aan jou sal oopbreek” (56). “Ons moet oefen om te luister na die stem van die Gees van die waarheid in ons en ons moet leer om dit te vertrou” (57).

Wat is dit wat die mens weerhou van ware intimiteit en ’n tweerigtinggesprek met die Skepper van die heelal? So vra Geldenhuys en nooi dan die leser om saam met haar die antwoord te vind. Sy skryf: “As ek en jy ware intimiteit met ons Skepper wil ontdek en leer om onsself daarin te verdiep, het ons nodig om hierdie Herder waaragtig te leer ken en te gehoorsaam. Hy alleen kan ons lei in die teenwoordigheid van ons Vader” (48).

Geldenhuys skryf in ’n gemaklike geselstrant en verwys heeltyd na die Woord. Sy lei die leser om te verstaan wie God is en waarom dit lewensbelangrik is om intiem met Hom in gebed te verkeer. Dan wys sy ook daarop dat dit moontlik is om die regte dinge uit die Woord te weet en dit nie toe te pas nie. “Totdat ons nie daders van die Woord geword het nie, kan ons lewe nie die Vader verheerlik nie” (91). “Namate die Vader se wil op aarde gedoen word, word die koninkryk van die hemel ’n werklikheid in ons hart” (132).

Ek het veral hoofstuk 24, “Leer ken die Vader se stem” van waarde gevind, want dit verduidelik onder meer op watter verskillende wyses mense God se stem hoor. Diegene met ’n sterk verbale breinvermoë is byvoorbeeld meer ingestel op woorde terwyl naturaliste verkies om God in die natuur te soek. Ontmoet God in gebed gaan oor meer as gebed. Die titel kon ook Intimiteit met God gewees het. Ek beveel dit heelhartig aan.

Ontmoet God in gebed is by deelnemende boekhandelaars beskikbaar, maar bestel dit gerus ook hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.