Boekresensie: 101 Nagmerries

101 Nagmerries deur Jaco Jacobs word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Hierdie boek uit Jaco Jacobs se pen kom met ’n duidelike waarskuwing in rooi op die voorblad: Nie vir sensitiewe lesers nie! Maar as jy vir een oomblik dink dat jy nie ’n bangbroek is nie en wel vir die boek kans sien, dink weer. 101 Nagmerries gaan jou tjank aftrap, jou broek laat bewe, jou lyf in hoendervleis laat uitslaan en jou laat gril en ril tot jou tande naderhand op mekaar klap.

Die boek is net vir die heel dapperste helde onder ons – diegene met murg in hulle pype en senuwees van staal. As jy dié 101 bangmaakstories oorleef, kan jy met reg trots wees op jouself. Selfs Chuck Norris sal twee maal dink alvorens hy dit waag om die dik boek van 296 bladsye op te tel! So wees gewaarsku, lees 101 Nagmerries geheel en al op jou eie risiko as jy elf jaar en ouer is.

Jaco Jacobs ontvang onverwags per e-pos ’n uitnodiging van ’n aanhanger. Hy kan gratis ’n houthut in die woud gebruik as sy skryfplek. Daar is nou wel nie elektriese krag nie, maar daar is darem lampe en ’n kaggel. Hoe wonderlik klink dit nie! Die foto’s van die hut lyk baie belowend en Jaco aanvaar die uitnodiging. Wie hou dan nou nie daarvan om iets gratis te ontvang nie? Hy kry die koördinate van waar die hut geleë is asook aanwysings oor waar die sleutel gebêre word. Kort voor lank maak hy hom in die hut tuis en is hy gereed om te begin skryf.

Maar o gaats, reeds die eerste nag gebeur daar iets vreesliks wat Jaco se “bloed laat vries” en hom beslis lewenslank nagmerries gaan gee. “’n Groot, monsteragtige gedierte wat op sy agterpote loop, met swart skubbe oor sy gespierde rug, arms en stert, en vlymskerp kloue wat aan sy vingers flits” gluur hongerig na Jaco voordat hy tussen die donker skadu’s van die bome in verdwyn. Die monster het vir Jaco ’n boodskap gelaat in ’n skewe handskrif. “Party mense noem my die Vreesvreter. […] Angsgille en nagmerries is my kos; ek lek snags kinders se vrees soos swart spookasem uit die lug.” Hy beveel Jaco om vir hom grillerige stories te skryf. ’n Hele honderd daarvan. Eers dán sal hy hom vrylaat.

Jaco het geen keuse nie. “Elke nag skuins ná twaalfuur kom klop die Vreesvreter aan die deur” en wag buite totdat Jaco “’n nuwe storie onderdeur skuif”. Die monster dring aan op die heel grillerigste stories en beloon Jaco met iets om te eet wanneer hy tevrede is. Wanneer die storie nie na die monster se sin is nie, ly Jaco honger. Sy gesig lyk naderhand “soos ’n geraamte s’n”. Die boek begin waar Jaco sy honderdste gruwelike en vreesaanjaende storie moet lewer. Gaan die Vreesvreter hom laat gaan soos hy belowe het? Jaco waarsku die leser: “So, as jy hierdie stories in die hande kry, sit dit dadelik neer. Hou dadelik op lees. Anders kan jy dalk vannag iets roggelend buite jou kamervenster hoor asemhaal. Moenie sê dat ek jou nie gewaarsku het nie.”

Ek noem slegs ’n paar titels van die stories en verse se titels om jou so lank te laat dink of jy kans sien om hierdie bangmaakboek te lees: Tjankfontein, Laksman, Die spookhond van Donkerdal, Spelonkberg, Die draakskub, Die vampier se stem en Dinge wat op volmaannagte gebeur. In die storie, Wat sal jy doen (p. 204) vra Jaco: “Wat sal jy doen as jy laat een nag opstaan om water te gaan drink, en ’n stem uit die wasbak hoor fluister?” Hy wil verder weet: “En as jy die bloedbelope oog sien wat vanuit die donker dieptes van die drein na jou terugstaar, sal jy jou gille probeer smoor?”

Ek gaan eerder nie sê of ék dapper genoeg was om die boek van voor tot agter deur te lees nie. Selfs Imile Wepener, die illustreerder, se illustrasies het die bloed laat stol in my are. Vanaand gaan ek beslis met oop oë lê en luister of ek iets roggelend buite my kamervenster hoor asemhaal. Een ding is seker – Jaco Jacobs wéét hoe om kinders (en grootmense!) bang te skryf.

LAPA Uitgewers publiseer 101 Nagmerries. Skaf dit gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.