Boekresensie: 107 Kaalkoppe

107 Kaalkoppe deur Nataniël word deur Human & Rousseau uitgegee.

Ek kon nie help om te glimlag toe Nataniël se splinternuwe boek getiteld 107 Kaalkoppe by my aankom nie, want dit was baie netjies oorgetrek met geskenkpapier wat soos die treffende voorbladillustrasie deur Janhendrik Burger lyk. Dít is nou wat mens Nataniël-flair noem, het ek gedink. Natuurlik het die ekstra moeite my beïndruk en kon ek nie wag om die boek te lees nie.

Nataniël skryf al vier dekades lank Kaalkop-rubrieke vir SARIE. In hierdie nuwe en vierde versameling van sy gewilde rubrieke, verskyn 107 Kaalkoppe wat hy vanaf 2012 tot 2021 gepen het. Hy skryf in die inleiding: “My dank aan elke liewe wese wat hierdie langdurige tog meemaak, my sonder oordeel staande hou, my woorde verduur en saam met my bly skarrel vir genade op hierdie planeet” (9).

Net soos wat mens van Nataniël kan verwag, is hierdie 107 rubrieke geensins vervelig of voorspelbaar nie. Hy het ’n sonderlinge manier om dinge en mense waar te neem en dit dan te verwoord op ’n dikwels skreeusnaakse wyse. Maar tog bly hy altyd eerlik en getrou aan homself en skemer empatie en deernis met ander altyd deur in sy werk. Hy is bekend daarvoor dat hy buite die spreekwoordelike boks dink en sy verbeelding en kreatiwiteit vrye teuels gee.

Een ding van die Kaalkop-rubrieke – dit bied aan die leser stof tot nadenke. Mens lees nie net ’n skrywe om dit binne vyf minute te vergeet nadat jy die boek toegemaak het nie. Nee, Nataniël skryf op ’n onopgesmukte wyse oor alledaagse dinge wat sy hart (en dus ook sy lesers s’n) raak, maar hy doen dit met ’n tikkie ekstra oemf wat moeilik is om te beskryf. Dis daardie knippie misterie wat in jou as leser se gedagtes bly draal. En voor jy jou kan kry, wonder jy saam met hom oor baie dinge. Jy verheug jou omdat hy eg mens is en sonder om te blik of te bloos skryf oor dinge wat die wêreld soms wil hê liefs nie hardop gesê moet word nie, want ons dra mos maskers.

Nataniël skryf in die rubriek getiteld “Verandering, steeds” die volgende oor die verandering wat die Covid-19-pandemie in almal se lewens meegewerk het: “Verandering is soos werklike skoon water, ’n middel wat jeugdigheid verleng, die lens wat wys jy is op onbekende grond, kyk dus behoorlik. Verandering wys jou dat roetine uitgedien is, struktuur is wat jy nodig het. Dit dwing jou om nuwe vaardighede aan te leer, kennis te verbreed, beter te kommunikeer. Dit verrinniweer jou ego, jy bly ewig ’n leerling. ’n Nuwe realiteit dwing jou om swakhede te erken, gawes te waardeer en jouself te herlaai. Om skielik opnuut jou voete te vind, is lewensgewend. Om jouself teë te sit en die bekende te verdedig, dan te leer jy kan aanpas, planne maak, weer en weer nuut raak, die kleinste details en grootste lesse van die onbekende leer ken, dit asem.”

Ek het dit baie geniet om 107 Kaalkoppe te lees. Dit was om saam met ’n dierbare en wyse vriend te kuier. Die pragtige swart-en-wit sketse deur Floris Louw dra atmosferies by tot die genieting van die teks.

Kry jou kopie van 107 Kaalkoppe hier.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.