Boekresensie: 14 maal moord

14 maal moord deur Daniël Lötter word uitgegee deur Protea Boekhuis.

Indien jy hou van ’n goed geskryfte grieselrige storie, sal jy Daniël se heel nuutste publikasie baie geniet. Nie net skryf hy so lekker dat jy nie die boek sal wil neersit nie, maar die makabere tema van moord laat jou hare rys en gee jou hartkloppings. Hierdie skrywer het die vermoë om sy lesers te laat gril met sy goed nagevorste bundels moordstories – 14 maal moord is die opvolg op die baie gewilde 17 maal moord en bevat die opspraakwekkende ware verhale van Suid-Afrikaanse moordenaars.

Wat vir Daniël as skrywer interesseer, is die wyse waarop die moordenaars se dade kommentaar gelewer het op die omstandighede en die samelewing van hulle tyd. Die eerste storie, “Titus se oë”, speel in 1714 in Tulbagh af. Die laaste storie, “Two-step en tamatiebroodjies”, speel in die jaar 2000 in Zeerust af. Daniël skryf: “Hierdie bundel, hoop ek, is dus meer as net ’n opgawe van grilstories. Dit is ook ’n herinneringstog – vir party dalk ’n bekendmakingstog – met die pad waarlangs ons samelewing in hierdie Suidland gekom het, deur die oë van die swartskape van daardie samelewing. Ek hoop dit leer ons so ’n ietsie meer van wie ons ook maar is.”

14 maal moord beslaan 295 bladsye en hou die volgende moordenaars aan lesers voor, nl. Maria Mouton, Carel van der Merwe, Charles van Leo Cox, Thomas Andrew Kerr, Dina Dorothea Kraft van der Merwe, Stephanus Andries Johannes Swart, Koos Coetzee, Andries Stephanus du Plessis, Bubbles Schroeder, Suster Quinlan, Joseph Collin Pattinson, Marthinus Rossouw, Ronald Burch en Unita Green. Hierdie moordenaars het van hulle slagoffers op baie innoverende wyses ontslae geraak. Maria Mouton het haar man byvoorbeeld in ’n ystervarkgat begrawe terwyl Ronald Burch die oorskot stukkie vir stukkie in tasse gepak en gaan weggooi het.

Daniël het die gawe om sy lesers pens en pootjies in die stories in te trek. Hy blaas lewe in die stowwerige verhale en hou die gebeure lewendig met die artistieke flair waarmee hy skryf. Kyk net hoe meesterlik eindig hy “Grootgemaak vir ’n galgtou” af –  die verhaal van Andries Stephanus du Plessis aan die Oos-Rand/Volksrust in 1936: “Want toe die eerste slag van sesuur die aand om 17 Junie 1936 slaan, gaan die valdeur van die galg onder Andries du Plessis se voete oop. Op sy doodsertifikaat skryf dokter Van Druten “Sudden” langs: “Duur van kwaal of laaste siekte.” En by “Oorsake van dood” skryf hy: “Judicial hanging.” Toe teken hy sy swierige handtekening met ’n vulpen, skroef die doppie toe en stap die skemeraand in om huis toe te gaan …”

Ek het heerlik aan hierdie besondere verhale gelees. Dit was vir my interessant om in die Erkennings agter in die boek te lees dat Daniël reken dat die navorsing van die stories vir hom die mees verrykende deel was van die proses om die boek te skryf. “Dit verbaas my steeds hoeveel mense van oral af opduik en dan te verskyn kom met ongelooflike materiaal wat betrekking het op stokou sake en wat in blikke tussen foto’s of in kindertydherinneringe lê.”

Meer oor die outeur: Daniël Lötter is van kleins af lief vir stories en het ’n belangstelling in misdaad, veral moord. Daar het reeds drie van van sy publikasies by Protea Boekhuis verskyn: Die grondpad is ’n grootpad (begin 2020), 17 maal moord (einde 2020) en Ware spookverhale van Suid-Afrika (middel 2021).

Skaf gerus jou kopie van 14 maal moord geskryf deur Daniël Lötter hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Ek het 17 Maal Moord gekoop en kon dit net nie neersit nie. Gaan beslis 14 Maal Moord aanskaf, so gou as moontlik!

Sune van Heerden ·

Dagsê Louise

Dankie vir jou boodskap.
Ons vra groot om verskoning vir die flater – ons het die berig gewysig.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.