Boekresensie: 33 palet-items vir die selfdoen-entoesias

Palette is groot nuus! As jy boonop omgee vir die natuur en hout graag herwin, dan sal jy saamstem dat palette geskik is om ’n groot verskeidenheid ekovriendelike en praktiese items mee te maak. Die nederige palet is goedkoop en geredelik beskikbaar.

Jason Kobrowisky se handige boek, Palette: Upcycling-projekte bevat 33 palet-projekte vir die vaardige en nie so vaardige selfdoen-entoesias onder ons wat graag met hout werk. Stap-vir-stap-instruksies en pragtige kleurfoto’s laat jou hande jeuk om iets moois uit ’n rou palet te maak. Die skrywer gee ook raad oor paletvoorbereiding en bespreek verskeie verftegnieke om jou spogprodukte mee af te rond. Die skrywer sê in die voorwoord: “Hierdie boek is propvol slim idees vir projekte asook wenke en aanwysings wat die selfdoener kan help om projekte aan te pak en suksesvol te voltooi.”

In hierdie stapsgewyse gids word die moeilikheidsgraad van die onderskeie projekte duidelik aangedui, en die gereedskap wat benodig word, word gelys. Van die interessante binnenshuise en buitenshuise projekte wat aangepak kan word, is ’n kaasbord, groenterakkie, wynrak, koffietafel, trousseaukis, planthouer, swaai, waentjie en pophuis. Met Kersfees om die draai, kan jy goedkoop selfgemaakte geskenke wat duursaam is en lyk, vir jou geliefdes met jou eie hande maak. Ek beveel hierdie sagtebandboek met 80 bladsye heelhartig aan.

Meer oor die skrywer:
Jason Kobrowisky besit sy eie meubelfabriek in Johannesburg. Hy is ’n ywerige houtwerker en ontwerp graag meubels.

Koop die boek: Palette: Upcycling-projekte is by toonaangewende handelaars beskikbaar of bestel by Lapa Uitgewers of Graffiti Boeke
Prys: R210-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Louise Viljoen is ‘n resensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.