Boekresensie: Afspraak met moord

Afspraak met moord word deur LAPA Uitgewers uitgegee.

Die waarheid is voorwaar vreemder as fiksie – en sommige waarhede is net haas ondenkbaar en moeilik om te glo. Dis hoe ek voel nadat ek Afspraak met moord, geskryf deur Jana Marx, ’n diepteverslaggewer vir Netwerk24, gelees het. Hierdie waremisdaadriller laat die bloed in jou are stol en gee jou hoendervleis oor jou hele liggaam. Ek het slapelose nagte gehad nadat ek die boek gelees het.

“Die wrede moorde het skokgolwe deur die land gestuur. Hoe kan ’n groep reeksmoordenaars vir vier jaar met die een gru-moord ná die ander wegkom sonder om vasgetrek te word? Hoe kon een vrou vyf skynbaar opgevoede, toerekeningsvatbare mense manipuleer om 11 mense koelbloedig te vermoor? (p. 3) Verder aan op dieselfde bladsy staan geskryf: “11 moorde. Rampokkery. Die bedryf – nee, die baasbrein – van ’n rampokkeronderneming. Roof met verswarende omstandighede. Bedrog. Identiteitsdiefstal. Nóg bedrog … 32 aanklagte.” Dít is die aanklagte wat advokaat Gerrit Roberts SC, hoofaanklaer, aan Cecila Steyn (37) en van haar makkers stel op Dinsdag 9 Oktober 2018 in die hooggeregshof in Johannesburg.

Die opspraakwekkende moorde waar onskuldige mense vir geld en persoonlike gewin wreedaardig om die lewe gebring is, is ook bekend in die media as die “Afspraakmoorde” of die “Krugersdorpmoorde”.  Die slagoffers was “gewone mense wat vir gewone sakeafsprake opgedaag het sonder om te weet die afspraak is eintlik met die dood” (p. 2). “Op die oog af is die lede van die groep moordenaars, ook die wat al gevonnis is ook, alledaags: Afrikaanssprekende Krugersdorpers met gerespekteerde beroepe, soos ’n Engels-onderwyseres, ’n aktuaris en selfs twee jongmense waarvan die een net nou die dag ses onderskeidings in matriek behaal het en selfs voorlopig vir medies by ’n universiteit gekeur is” (p. 2-3).

Cecilia Steyn is die meesterbrein agter die kultus genaamd Electus per Deus of te wel “Uitverkies deur God”. “Hoewel sy nie fisiek teenwoordig was op die tonele gedurende die verskeie moorde nie, was dit op haar aandrang dat die misdrywe gepleeg is en met haar volledige kennis daarvan” en “Sy was verder die ontvanger van die meeste van die geld wat deur hul misdadige aktiwiteite bekom is” (p. 3). Tog het sy met selfvertroue wat uit haar straal keer op keer “onskuldig” in Engels geantwoord toe die regter vir haar ná elke aanklag gevra het hoe sy pleit. Marx wonder daaroor: “Glo sy in haar eie onskuld? Of is dit maar net weer die meesterlike manipulasietegnieke wat sy oor jare aan die dag gelê het?” (p. 3)

Volgens die uitgewersbrief poog Marx om, danksy onderhoude met diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar, antwoorde op die publiek se vrae te kry en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus wat gelei het tot een van die mees opspraakwekkende moordsake in ons land se geskiedenis. Van die vrae sluit in: Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank?

Afspraak met moord beslaan 288 bladsye. Heel aan die begin van die boek is ’n fotogalery van die moordenaars en die slagoffers. Daar volg ook nog foto’s en grafika wat die verskriklike werklikheid van die moorde by die leser tuisbring. Daarna volg 22 hoofstukke met titels soos o.a. Cecilia se veelvuldige persoonlikhede, Petrolbomme en vrees: Dis oorlog!, Die eerste twee wraakmoorde, ’n Egpaar sterf vir R700, Die polisie is warm op die spoor, Polisse en tiendes, Die polisie maak ’n deurbraak, Staan in die hof! Die laaste hoofstuk gryp met ysvingers om jou keel, want die titel is Was daar nóg moorde? Die bronnelys agter in die boek getuig van Marx se deeglike navorsing.

“Advokaat Roberts, wat in sy loopbaan al onder meer groot sake saam met die baasspeurder Piet Byleveld getakel het, sê dié saak is uniek in die land se regsgeskiedenis” (p. 265). Hy reken ook: “Ek het al verskeie hoëprofielsake gedoen, soos die Nasrec-reeksmoordenaar (16 moorde tussen 1993 en 1998) en die Wemmerpanreeksmoordenaar (27 moorde tussen 1996 en 1997), maar hierdie saak oortref alle ander” (p. 266).

As leser moes ek myself kort-kort daaraan herinner dat ek ’n niefiksie boek lees oor ware misdaad en dat die inhoud nie uit ’n liederlike nagmerrie opgediep is nie. Afspraak met moord is nie maklike leesstof nie, maar dis wel uiters boeiend. Nie al Cecilia Steyn en haar duistere kultus se slagoffers is egter vermoor nie. Daar is gebroke mense wat steeds sukkel om weer hulle lewens te herbou nadat hulle paaie met Steyn-hulle gekruis het.

Afspraak met moord kan hier bestel word. Dit is ook as e-boek beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.