Boekresensie: Ai, Abraham

Ai, Abraham deur Abraham Lückhoff word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Die uitgewersbrief noem dat veral ouer lesers, wat nog die kerklui en politici van destyds onthou en mense wat nostalgies terugdink aan hul eie sorgelose jeugjare op die Suid-Afrikaanse platteland, aanklank sal vind by hierdie heerlike outobiografie van 296 bladsye. Ek dink egter dat die leesmark veel groter is en dat jonger mense hierdie boek ook van waarde sal vind, want, soos ’n mediese dokter glo aan die skrywer gesê het: “Een lag, selfs net ’n glimlag, is beter as al my medisyne.”

Dr. Abraham Lückhoff het as predikant, koerantman en diplomaat op drie vastelande gewerk en het dus geen tekort aan humoristiese staaltjies en stories om sy lesers mee op te trakteer nie. Sy vermoë om humor in elke situasie raak te sien en dit treffend skertsend in keurige taal weer te gee, sorg vir ’n verkwikkende en baie interessante leeservaring met geen vervelige oomblikke nie. Hy kan vir homself én die situasie lag – ook met homself die draak steek – en dis juis dít wat aan hom ’n wye leesgehoor sal besorg. Moenie die fout maak om te dink dat omdat hy humor hoog aanslaan, die outobiografie vol ligsinnigheid is nie. Glad nie. Sy opregte belangstelling in en liefde vir mense is heeltyd te bespeur en al is sy vertellings deurspek met humor, is daar ook die ernstiger oomblikke waarin heimwee na wat was na vore tree. Die vertellinge verlei die leser om net maar nog één en dan nóg een hoofstuk te lees voor slaaptyd.

Hy vertel reeds in die Voorwoord: “Van kleins af het snaakse dinge met my gebeur. Dis nie dat ek juis ’n grapjas is nie; inteendeel, ek was nogal ’n heel ernstige seun, maar afgesien daarvan het die een komiese, vreemde, avontuurlike en soms gevaarlike ding ná die ander my getref.  [ …] Die een episode ná die ander het my oupa later laat sê: ‘Ai, Abraham!’ Dit het ’n uitdrukking in ons familie geword”.

En nou, natuurlik, ook die gepaste titel van sy outobiografie, want sy lewe was vol “ai, Abrahams” – “van kleitrap op my pa se bakstene tot ’n sprong in een van Amsterdamse gragte, rugby speel saam met Jesus op Princeton, Izak en Jakob in Vancouver ontmoet en helder oordag in Kleinmond deur twee engele van ʼn gewisse dood gered word”. Hy skryf oor sy idilliese kinderdae op Clanwilliam, die manewales van sy tienerjare op Graaff-Reinet en die snaakse ervaringe wat hy as predikant in Amerika, Mexiko en België gehad het.

Ek het heerlik aan dr. Lückhoff se kosbare herinneringe gelees. Sy vertellinge is heerlik oorspronklik. Kyk net hoe mooi beskryf hy op bladsy 29 die dierelewe wat te sien is by hulle familie se vakansiehuis op De Wetsbaai. “Daar is ook volop fisante, patrysies, selfs ’n troppie tarentale wat klokslag om vyfuur kom kruiwawiel-kerm vir kos. Ek het al ’n paar grysbokkies op die punt van die erf sien wei. Dis ook ’n voëlparadys met volop vinkies, tinktinkies en jangroentjies, kransduiwe so groot soos hoenders en fraai lemoenduifies met hul strelende koer-koer-koer.”

Meer oor die skrywer:

Dr. Abraham Lückhoff kom uit ’n geslag van predikante en sendelinge. Hy het in drie lande as dominee gewerk, maar was ook kerkredakteur vir Rapport en koerantman by Die Burger en Hoofstad. Hy is ook die skrywer van Cottesloe (Tafelberg, 1980) en mede-skrywer van Perspektief op die ope brief (Human & Rousseau, 1982). Hy en sy eggenoot, Gerda-Marié, woon in Venice, Florida, VSA, maar spandeer ook gereeld tyd by die familie se vakansiehuis op De Wetsbaai te Bettysbaai in Suid-Afrika.

Kry jou kopie van Ai, Abraham hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.