Boekresensie: Amper Frans

Amper Frans deur Louis Jansen van Vuuren word deur Jonathan Ball Uitgewers uitgegee.

“Vive la France!” Dít is wat ek wou uitroep ná die lees van Louis Jansen van Vuuren se Amper Frans. Die biografie word voorgehou as ’n móét vir alle Frankofiele, en ek stem saam. Die 21 hoofstukke bied ’n onvergeetlike smorgasbord vertellinge wat die leser se aptyt behoorlik prikkel vir alles Frans.

Louis en sy lewensmaat, Hardy Olivier, het in 2001 die massiewe restourasiewerk aan die Château de la Creuzette aangepak. Hulle het, as eens trotse eienaars van die bekende boetiekhotel, gaste van oor die wêreld ontvang en trakteer en ook aan hulle kook- en kunsklasse en tematoere voorgehou. Hy vertel meer hieroor in Amper Frans. Louis en Hardy woon deesdae in ’n woudomsoomde jagterspawiljoen op die Le Rembucher-landgoed buite die dorpie Lépaud. Alhoewel Louis, ’n boorling van die steenkooldorp Middelburg se wortels stewig in Suid-Afrika gevestig is, is hy ewe tuis in Frankryk en het hy die mense, kultuur, tradisies, gewoontes en gebruike daar gul omarm. “As ’n burger van twee lande skep Louis met kwas, woord en daad ’n kreatiewe leefwêreld” en “word sy Franse odussee vervul” (p. 8).

Ton Vosloo skryf in Amper Frans se Voorwoord: “In hierdie boek neem Louis, die kunstenaar, digter, skrywer, dosent, winkelier, verteller, sjarmante gasheer en vriend der vriende, die leser uit ’n diep punt van herinneringe op ’n reis van wondere.”

“Sommige Franse gewoontes is nogal aardig en anders as wat ons in Oranjezicht en Waterkloof sou doen. Ander maniertjies is weer vir ons oulik en te lekker om na te volg” (p. 53), aldus Louis.

Louis skryf onderhoudend in ’n heel gemaklike geselstrant wat die leser nie net oorrompel nie maar ook die Franse platteland op ’n besonderse wyse deur sy oë (en ander sintuie) laat ervaar. “Ek laat die motorruit sak. Die lug is koel teen my wang. Die herfs wordende bos ruik na molm en mos” (p. 9). Hy beskryf alles in kleur en geur. Kyk net hier hoe treffend beskryf hy die man wat in die herfs van 2019 aan hulle hul nuwe tuiste genaamd Le Rembucher wys: “Die agent is ’n hipster met ’n baard wat Jo Black na sy asem sal laat sak. Hy dra ’n paar spitstoon-Oxfords sonder kouse, sy enkels kaal” (p. 10) en “Daar is ’n goue seëlring met ’n wolwekop aan sy pinkievinger. Hy ruik na duur naskeermiddel en sigaretrook” (p. 11). Hy vertel op bladsy 14 dat sy ouma Willemien gereeld vermaan het: “Gooi vir Lewies met die flenniedoek toe sodat hy kan bedaar. Dis al hoe mens die kind en ’n oorstuurs papegaai stil kan kry.”

As kunssinnige hoërskoolseun het “Oom Harry, die maltrap kunsonderwyser” vir Louis in “technicolor” laat droom (p.18). Sy ma het hom ook aangemoedig met “Wens altyd oordeelkundig en wens uit jou hart uit” (p. 17). Hy was ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch en die Michaelis-kunsskool in Kaapstad voordat hy hom in 1998 vir die eerste keer in Frankryk, op die vooraand van sy eerste kunstentoonstelling in Rue de Seine in Parys, bevind. Kort daarna belê hy en Hardy in ’n sjarmante Hansie en Grietjie-huis te Lapeyrouse in diep Frankryk. En so het Louis se Franse avontuur ’n uitgemaakte saak – ’n fait accompli geword. Vandag kyk hy, nou in sy vroeë sewentigs, terug op ’n onvergeetlike lewe vol uitdagings, ongelooflike talent en geleenthede. Hy het reeds meer as 50 kunsuitstallings plaaslik en oorsee gehou.

Louis vertel in Amper Frans byna soos ’n wafferse Emsie Schoeman so ’n bietjie meer oor Franse etiket – onder meer oor hoe om ’n bottel sjampanje oop te maak en ’n heildronk in te stel. Hy beskryf selfs die Franse se ingewikkelde lugsoen-ritueel op bladsy 29. Sy skrywes herinner my aan Nataniël se Kyk na my waarin hy herinneringe aan sy kindertyd deel, Wini Esterhuizen se onthoubundel, Die dag toe ons krismis gaan soek het, en Peter Veldsman se Wat die hart van vol is. Louis skryf tong-in-die-kies met flair en vonkelende humor en deel sy kosbare herinneringe en wedervaringe openhartig en vrygewig. Hy skilder nie net met verfkwaste nie, maar span woorde net so kwistig en suksekvol in. Die boek bevat heelwat swart-en-wit-foto’s wat die hele Frankryk-ervaring net nóg meer spesiaal maak vir die leser.

Louis mymer in die Epiloog oor hoe baie dinge die afgelope 21 jaar dieselfde gebly het en hoeveel dinge verander het. Hy noem dat daar nou al meer as 25 Suid-Afrikaanse gesinne in en om Boussac woon en nogal vindingryk en met groot sukses hulle sake daar bedryf. Hy skryf op die heel laaste bladsy: “Dis wonderlik om op Boussac se dorpsplein te sit met jou ore vol Frans, Engels, Hollands en Afrikaans, terwyl jy jou lewe in oënskou neem.”

Skaf gerus Louis Jansen van Vuuren se Amper Frans hier aan en verlustig jou in ’n lewe voluit geleef tot dusver toe – ’n lewe van fanfare en faux pas. Hy en Hardy het ook die boek Feestelike Frankryk/Festive France saam met Anet Pienaar-Vosloo uitgegee. Verskeie van Louis se kortverhale het al die lig gesien. Hy is ook die skrywer van Die storie van ’n huis en ’n digbundel getiteld Tempermes. Ek het Amper Frans baie geniet en beveel dit sonder skroom aan as heerlike vakansieleesstof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Frankryk het nou maar net daardie magiese gevoel oor mens. Ek het as kind die voorreg gehad om in Parys skool te gaan vir etlike jaar. Het wel hier my laaste skooljare voltooi. Maar mens hunker maar alryd terug. Veral as mens die raal kan praat en die Franse kultuur aan geleer het. Julle moet dit daar geniet en gaan probeer om die boek te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.