Boekresensie: André le Roux se Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede)

Deur Louise Viljoen

Hierdie is een van daardie boeke wat mans én vroue ewe veel sal geniet. Mens lees die kort stukkies proe-proe terwyl jou tone omkrul van pure lekkerkry omdat jy jouself of jou wederhelf daarin herken. Ek het sommer van die tong-in-die-kies vertellinge hardop vir my man voorgelees en dan het ons heerlik daaroor gelag.

Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) is ’n móétlees-versameling van die latere (en bitter snaakse) rubrieke wat André le Roux vir Sarie geskryf het.

Mans weet al te goed dat vroue komplekse wesens is. Hulle het immers allerhande giere en geite en snaakse maniertjies. Die skrywer slaag briljant daarin om hierdie aardighede van die vroulike spesie komies te beskryf vanuit ’n manlike perspektief. Hy doen dit egter op ’n ‘vroue-is-oulik-en-dierbaar-en-begeerlik-en-waar-sou-ons-mans-tog-wees-sonder-hulle’ wyse. Dit is duidelik dat die skrywer vroue goed bestudeer het en hulle fassinerend vind. En pure man wat hy is, eindig hy baie van die vertellinge met ’n heerlike sexy ondertoon wat weereens sy bewondering vir vroue beklemtoon. Hy spot ook fyntjies met die manne se uniekhede, swakhede en eksentrisiteite waarmee vroue weer verlief moet neem.

Mans en vroue verskil hemelsbreed. Die manier waarop ons dink en doen en praat is nie dieselfde nie. Hierdie boek gee die leser toestemming om openlik oor die verskille tussen ons te giggel en om dit nie te ernstig op te neem nie. Die liefde verdra mos alles, dan nie? Die liefde is immers blind! Hoekom sal ons nou kwaad word as ons mekaar bloot misverstaan? Dis tog soveel beter om maar net jou kop te skud en daaroor te lag. En ja, daar is ’n rede waarom die slagspreuk ‘maak liefde, nie oorlog nie’, so gewild is.

André le Roux wonder in sy boek, Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede), waarom vroue ‘back-seat drivers’ oftewel moderne agterryers is. Hoekom kan vroue nie net nee sê sonder om skuldig te voel nie? Verder wil sy die kamervenster toe hê as jy dit wil oop hê. Sy was die wáslap van alle dinge! Jy skrik jou byna morsdood as sy die winter probeer oorleef in ’n flennie nagkabaai wat álles bedek, selfs die liefde. Dan kla sy graag oor hoeveel moeite en tyd dit neem om vrou te wees – die badritueel, die roomsmeer-ritueel, die haredroogblaas-ritueel … Sug. Hoekom groet sy wildvreemde mense in restaurante en ander openbare plekke? Laat ons ook liefs nie praat oor vroue en hulle diëte nie! In die laaste vertelling wonder die skrywer wat ’n man tog sou wees sonder sy vrou, sy maat én beskermengel. As sy nie meer daar is nie … en hy huil!

Skaf gerus Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) aan en verlustig jou aan die verskille tussen mans en vrou wat ons tegelykertyd teen die mure uitdryf en die ander persoon onweerstaanbaar wonderlik maak.

Meer oor die skrywer: André le Roux is ’n gesoute en bekroonde joernalis. Hy het al vir Beeld, Huisgenoot en Die Burger gewerk. Hy was eindredakteur by Sarie en het vir agttien jaar lank die gewilde en veelbekroonde rubriek “Op die vrou af” geskryf. Hy het ook talle topverkoperboeke geskryf soos bv. Op die man af, Nou ja toe en Op die vrou af.

Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) word deur Human & Rousseau uitgegee en is beskikbaar by toonaangewende handelaars. Koop nou by NB Uitgewers.

*Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.