Boekresensie: Anton Goosen – Liedjieboer

Anton Goosen – Liedjieboer deur Hanlie Retief word uitgegee deur Tafelberg Uitgewers.

Ek was sommer baie opgewonde toe Anton Goosen se outobiografie, deur die bekroonde joernalis en topverkoperskrywer, Hanlie Retief, op my tafel beland het. Goosen is ’n welbekende, immergewilde en soms omstrede Afrikaanse musikant. Menige sal met my saamstem dat hy ’n lewende legende is. Hy word nie verniet gesien as die vader van Afrikaanse rock nie. Nie net sing hy ’n barshou nie, maar hy het ook al ver oor die vyfhonderd lirieke geskryf. Sy loopbaan is wel lank, suksesvol en roemryk, maar dis ook deurspek met teleurstellings, sensuur en harde bene kou op die langpad. En natuurlik kom roem met ’n prys. Hy praat reguit oor die uitdagings van die musiekbedryf, die slaggate en ja, die binnegevegte. Kerneels Breytenbach skryf op die agterplat: “Die feite, die skinner agter die skinner, die hele musikale kragtoer, die man wat rebel én rigtinggewer was. Onvergeetlik.”

Anton GoosenLiedjieboer is opgedeel in 38 hoofstukke met hier en daar die ekstra lekkerte van swart en wit foto’s. Retief berei die leser só voor op die leesgenot wat wag: “Dis die lewe van Anton Goosen en dis alles in hierdie boek. Moenie chronologie verwag nie, té vervelig vir Anton.” Sy skryf ook: “Hierdie boek is rock ’n roll in die binnewêreld van Anton Goosen.” Anton beaam: “Om jou eie pad te loop is deel van rock ’n roll, want dis nie net musiek nie, dis ’n lifestyle. Êrens in ’n song skryf ek jy kan dans op musiek, en jy kan marsjeer op musiek. Musiek kan rewolusie wees of liefde maak” (14).

Die liedjieboer is op 5 Maart 1946 gebore in die skadu van die Renosterberg in Middelburg in die Karoo. Retief skryf Goosen se lewensverhaal op ’n vloeiende en leesbare trant. Daar is nie ’n vervelige oomblik in hierdie boek nie. Die storie gryp jou vanaf die eerste bladsy en laat jou nie maklik los nie. Dis vroeg reeds duidelik dat Goosen en rock ’n roll mekaar nie gekies het nie. Musiek was van die begin af onlosmaaklik deel van hom. Toe sy pa wou weet wat die aantrekkingskrag was, antwoord hy: “O, dis die ghitare en die boodskap, Pa, dis rock ’n roll” (16). Hy noem ook dat hy as testosteroongevulde tienerseun die ducktail-era onweerstaanbaar gevind het – “eendsterte en sheilas wat op motorfietse rondry en later die hippie-ding met bell bottoms en flowers in their hair” (24).

Dis haas ondenkbaar dat ’n skoolsielkundige oor die jong Goosen in ’n verslag geskryf het: “Jammer jy gaan nie ’n bestaan kan maak uit musiek nie, Anton, net die regte groot musikante soos Nico Carstens en Hennie Bekker kan” (24). Maar Goosen het ’n droom gehad. Hy was “iemand wat gefassineer was deur musiek en ver plekke en reis, met ’n begeerte om in die groot stad uit te kom …” (26) In 1964 gaan studeer hy spesiale onderwys vir gestremde kinders by die onderwyskollege in Heidelberg. Hier begin hy en sy muso-vriende in hulle “eerste ernstige rêrige band, die College Combo” (31) te speel. Ek wil amper sê die res is geskiedenis.

Dit was egter eers in 1979 dat kitsroem in Anton se skoot geval het. Hy was op die kruin van die golf. “Kruidjie-roer-my-nie”, my eerste kommersiële sukses, het ’n ompad geloop, my eerste volledige album, Boy van die suburbs, was ’n kitssukses waarvan 90 000 eenhede verkoop is, die Musiek-en-Liriek-beweging het ontplof, ek het twee Saries gewen, die Liedjieboer-bênd is gebore” (61). Dit was inderdaad groot tye. Geen wonder nie. Goosen het deur sy “hele loopbaan geglo daar is nie ’n plaasvervanger vir kwaliteit nie. Jy gebruik die beste ateljee, die beste musikante, die beste tegniese span – en siedaar!” (187)

Goosen se biografie is deurspek met ’n magdom boeiende staaltjies uit die musiekbedryf wat nog nie voorheen gehoor is nie. Dan is daar ook die huishoudelike name soos Koos Kombuis, Sonja Herholdt, Laurika Rauch, Johannes Kerkorrel, Esmé Euvrard, Lucas Maree, Koos Kombuis, Breyten Breytenbach, Bles Bridges, Steve Hofmeyr, Piet Botha, ens. wat die leser se kop behoorlik laat draai.

Die lewensverhaal van hierdie ikoniese en immergroen musikant, wat myns insien as ’n erfenisskat gesien kan word, hoort op elke musiekliefhebber en rebel se boekrak. As jy ook rock ’n roll in jou bloed het, sal jy Anton GoosenLiedjieboer verslind. Dit lewer ’n waardevolle bydrae tot die geskiedenis van die wêreld van musiek. Goosen stel dit só: “In my loopbaan van veertig jaar, sover, het ek 78-, 45- en 33 ⅓-plate, solussewes, agtbaanbande, kassette en CD’s gesien kom en gaan” (299).

Meer oor die skrywer: Hanlie Retief se weeklikse onderhoude met bekendes in Rapport word wyd en syd gelees en is baie gewild. Sy is ook die skrywer van die topverkoperbiografie, Byleveld. Sy is al bekroon met onder andere die Sikuvile- en Piet Cillié-toekennings, Media24-Legends, ATKV-Mediaveertjies en Cum Laude Alumni-toekenning van die Universiteit van die Vrystaat.

Bestel gerus jou kopie van Anton Goosen – Liedjieboer hier. Dit is ook as e-boek beskikbaar.

 

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae