Boekresensie: Armand kook kaal volume 2

Armand kook kaal volume 2 deur Armand Aucamp word deur LAPA Uitgewers uitgegee.

Met hierdie kookboek haal die uitgewers álles uit om die leser te verlei. Asof die titel jou nie reeds twee keer laat kyk nie, glimlag die bekende akteur, mediapersoonlikheid en skrywer, Armand Aucamp, tog te mooi terwyl hy ’n goudgeel suurlemoen slegs duime ver van sy mond af vashou asof hy nie kan wag om sy tande daarin te slaan nie. Hy dra ’n  leervoorskoot wat sy kaal bolyf smaakvol dog verleidelik beklemtoon – die toonbeeld van jeugdige krag en blakende gesondheid.

Al suggereer die titel en die voorbladfoto stuitig dat Aucamp nakend kook, beteken dit eintlik dat hy verkies om met vars, onverwerkte en onverfynde bestanddele sy ding in die kombuis te doen. Hy beskou homself nie as ’n sjef nie, maar reken hy is ’n amateur-koskenner wat deurentyd sy liefde vir kos en gesondheid laat prut het. “Ek dink dit is juis my eenvoudige benadering tot kos en kosbereiding, dalk my onkunde oor die professionele manier van dinge ‘reg’ doen, wat tot mense spreek.” Hy glo dat sy aanslag toeganklik en eenvoudig is en dat dit lekker is om só te eet en leef. Die publiek stem saam. Hulle het sy Armand kook kaal volume 1-kookboek van die winkelrakke af geraap en ook sy TV-reeks Armand kook kaal goed ondersteun.

Armand kook kaal volume 2 beslaan 132 bladsye en bevat 50 oorspronklike banting- en keto-vriendelike resepte en het ’n van-plaas-tot-tafel-aanslag. Aucamp skryf in die Inleiding hy wou dit ’n stappie verder neem waar dit by gemak kom. “Ek wou so ver moontlik bestanddele gebruik wat reeds in jou kombuis is. Want daar is selfs banting- of keto-bestanddele wat na my mening nie noodwendig die gesondste is nie, soos laekoolhidraat proteïenstafies wat deesdae op winkelrakke pronk, asook poeiers, drankies, ensovoorts.” Hy eggo die verbruiker se sentiment: “Dit word werklik daagliks al hoe moeiliker om tussen al die hordes opsies en menings en moontlikhede te kies. Wie is reg? Wat is reg? Hoe is reg? Wat, hoe, waar, wanneer, wie …” Die antwoord? “Eenvoud. As iets bine drie tot vyf dae nie meer vars is nie, dan is dit tien teen een ’n goeie opsie.”

Die kookboek is opgedeel in ses hoofstukke getiteld Die basics, Ontbyt, Middagete, Aandete, Happies en Nageregte. Aucamp lewer kommentaar by elke resep. By die Hollandaisesousresep op bladsy 16 skryf hy: “Soos ek nou begin skryf, kry ek letterlik klem in my kiewe by die gedagte aan hollandaisesous. Oukei, dit is al tienuur en ek’t seweuur gisteraand laas geëet, maar nog steeds. Die uiterse romerigheid met daai suur smakie is genoeg om my mond nou letterlik oor die hele Bootleggers (waar ek Armand kook kaal sit en skryf) te laat water. Hollandaisesous is sowaar vloeibare goud! Geniet dit oor steak, eiers, groente of salm, of eet dit eenvoudig alles met ’n lepel uit die bak uit op – soos ek.”

Die resepte is vinnig, maklik en ekonomies om te maak en fokus op goedkoop, maklik verkrygbare en gesonde bestanddele. Ek noem hier onder drie heerlike resepte wat in die onderskeie hoofstukke voorkom:

  • Die basics: Keto-kruiebroodjies, Oor-alles-slaaisous en Keto-kraakbeskuitjies.
  • Ontbyt: Groente-en-eiermuffins, Murgpampoentjie-rösti’s en Romerige peri-peri-hoenderlewertjies.
  • Middagete: Kerriehoender-wraps, Thaise viskoekies en Gerooktesalm-sushi.
  • Aandete: Portugese familiehoender, Amerikaanse meatloaf en Pepersteak-potpasteitjies.
  • Happies: Blomkooltjips met suurroom, Hoenderlewerpatee en Feta-en-Peppadew-doopsous.
  • Nageregte: Tiramisu, “Wortelkoek”-fudge en Suurlemoensmeer-jogurtpotjies.

Vir diegene wat nie net na die pragtige volkleurfoto’s van die aptytwekkende disse wil kyk nie, is daar ook ’n versameling foto’s van Aucamp waar hy sy lyf model hou – onberispelik geklee in sy bruin leervoorskoot en ook in ’n denim en spierwit T-hemp. Hy is voorwaar ’n goeie advertensie vir die gesonde eetstyl wat hy verkondig. Dis ook lekker om agterin die boek te sien hoe hy erkenning gee en dankie sê aan verskeie mense wat op een of ander manier gehelp het om die kookboek die lig te laat sien.

Skaf jou kopie van Armand kook kaal Volume 2 hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.