Boekresensie: As jou maats kom kuier

My maats kom kuier! Speletjies, vasvrae, bederf-idees en dinge om te maak deur Dorling Kindersley word uitgegee deur Lapa Uitgewers

Meisies nege jaar en ouer gaan absoluut mal wees oor My maats kom kuier! Speletjies, vasvrae, bederf-idees en dinge om te maak, ’n wonderlike 80 bladsye-boek tjok-en-blok vol waardevolle wenke en kreatiewe idees vir wanneer maats kom kuier of oorslaap. Die agterbladteks beloof heel tereg: “Jou maats sal nog vir dae lank praat oor hoeveel pret dit was om by jou te kuier!” Volg die raad in hierdie boek en sê koebaai vir vervelige oorslaappartytjies en middernagfeeste.

My maats kom kuier! is ’n onontbeerlike gids tot partybeplanning. Besluit op ’n tema, ontwerp die uitnodigings, beplan die aktiwiteite, maak geskenkies vir jou gaste, sorg vir die eet- en drinkgoed en tref die slaapreëlings – jou maats moet dalk slaapsakke saambring omdat julle gaan kampeer. Jy sal hope pret hê om die program op te stel vir die beste kuieraand ooit. Een van die talle tema voorstelle sluit ’n heerlike bederf spa-partytjie in. Meisies kan mekaar se naels versorg en ook ’n ontspannende voetspa en gesigsbehandeling beleef. Daar is verskeie voorbeelde van naelkuns en vrugtebehandelings wat jy en jou maats self tuis kan probeer. Miskien is julle lus om eerder ’n modeaand te hou. Dan sal die haarstylwenke nét die ding wees om julle in ’n partytjieluim te kry.

Talle interessante vasvrae, speletjies en projekte sal maats konstruktief besig hou. Maak oulike oogmaskers, blomme-haarbande, droomvangers, gerafelde armbande, gelukbringers en allerhande ringe en dinge. Julle kan ook lekkergoed-armbande, tutu’s en haarstringe maak – selfs julle ou tekkies omskep in unieke mode-items. Met springmielies, pizza-harte en ’n roomys-kroeg kan geen meisie verkeerd gaan nie. Afskeidsgeskenkies soos prettige rame, stylvolle sakkies en strelende badsout is die perfekte manier om ’n onvergeetlike kuier mee af te sluit.

Deeglike aanwysings en veiligheidswenke word deurgaans gedeel om seker te maak dat die meisies gesellig kuier en hope pret het. Lesers word egter gemaan om verstandig en veilig te wees en volwassenes se hulp in te roep met sommige van die projekte wat bv. kook, sny of naaldwerk vereis. Die volkleurfoto’s en -illustrasies is pragtig en maak van die boek ’n visuele fees. Lydia du Plessis het die boek keurig in Afrikaans vertaal. Dis die perfekte geskenk vir jong meisies wat graag saam met hulle maats kuier en ook lief is vir selfdoenprojekte.

My maats kom kuier! word deur LAPA Uitgewers uitgegee in medeproduksie met Dorling Kindersley. Dit is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.