Boekresensie: Bak dit self

Bak dit self deur Marlene Schoeman word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Ek is ’n selferkende soettand wat sommer baie daarvan hou om weg te lê aan heerlike gebak. Glo my, ek sê nie maklik nee vir soete verleiding nie. Soms waag ek selfs my hand daaraan om koeke en terte te bak, maar ek het lankal verlief geneem daarmee dat ek beter is daarmee om gebak op te eet as om dit op te tower. Maar nou het ek geen verskoning meer om uithalergebak te bedien nie, want ek het Marlene Schoeman se Bak dit self ontdek! Koekbak en versiering is beslis nie net vir bobaasbakkers beskore nie.

Hierdie feestelike resepteboek nooi jou om jou voorskoot aan te trek en self koeke vir spesiale geleenthede soos die bekendmaking van babas se geslag, ooievaarstees, verjaarsdae, en morskoeke vir babas se eerste foto’s te neem. Schoeman beaam: “Met die idees in hierdie boek wil ek wys dat jy nie ’n ervare of professionele bakker hoef te wees om mooi produkte op te tower nie.” Met die stap-vir-stap aanwysings en waardevolle wenke asook die pragtige volbladfoto’s in Bak dit self kan selfs diegene onder ons met tien duime uitsien na smullekkergebak waarmee ons kan spog.

Bak dit self beslaan 132 bladsye en bevat 50 koeke wat babageleenthede vier – niks verhinder jou egter om hierdie maklike resepte ook vir ander geleenthede as dié wat met babas en kinders te doen het uit te toets nie. In die hoofstuk getiteld “Maak gereed” vertel Schoeman meer oor die materiale wat ’n bakker benodig. Sy beskryf ook allerlei tegnieke, bv. om koeklae te sny en ook te keer dat ’n stapelkoek omval. Die algemene bakwenke en ook wenke vir spesifiek groot koeke is baie leersaam en interessant.

Die resepte wissel van makrolle, koekstokkies, oliebolle, rooifluweelkoek, grenadellakoek en aarbeikoek. Daar is ook klapperkoek, melkkoek, suurlemoen-en-jogurtkoek, grondboontjiebotterkoek en vele meer met verskeie vulsels en versiersels.

Vir die bekendmaking van die baba se geslag is daar vanieljekoek met meringue-vulsel en aarbeikoek met karamel en malvalekkers. Dit is egter die roofluweel-en-vanieljestapel met roomkaasvulsel wat mý mond laat water. Vir ooievaarstees is daar byvoorbeeld sjokoladekoek met oreo-en-roomvulsel, sjokolade-en-lamington-stapel met karamel en vanielje-en-grenadella-koekstapel. My gunsteling is die rooifluweel-en-wortelkoekstapel. Vir baba se doop is daar onder meer koffiekoek met karamelstroop en room, vanieljekoek met Crunchie-vulsel, en melkkoek met klappervulsel. Vir baba se eerste verjaarsdag is daar heerlike lemoenkoek met soutkaramel- en roomkaasvulsel en syferkoek met karamel, vanieljestroop en room, ens. Dit is egter die morskoeke wat smullekkerpret beloof met byvoorbeeld ’n beertjiekoek, ’n groen monsterkoek, en ’n roomyshorinkiekoek.

Dit is moeilik om te besluit watter resep om eerste te probeer, want almal lyk heerlik en heel maklik om te bak. Ek hou ook daarvan dat daar plek vir notas gelaat is aan die einde van die boek.

Meer oor die skrywer

Marlene Schoeman woon op Ladybrand. Sy is Bakels se plastieseversiersel-ambassadeur en doen landswyd suikerkunsdemonstrasies. In haar vrye tyd skryf of skilder sy graag, maar haar groot liefde is om vir haar talle klante te bak. Sy is baie passievol en glo dat net die beste kan doen wanneer jy iets vir ander mense voorsit. Haar motto: “Mense kan afskeep proe.”

Bestel Bak dit self hier of hier.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.