Boekresensie: Beatrix sê: Raak hekel-slim

Boekresensie deur Louise Viljoen

Hekel het as uiters gewilde kunsvorm herleef. Verby is die dae toe ou tannies in skemer vertrekke gesit en doilies hekel het om oor die arm- en rugleunings van hulle sitkamerbanke te gooi. Deesdae hekel oud en jonk, man én vrou, net waar jy kyk. Kreatiewe patrone en ’n reuse verskeidenheid hekeldraad in alle moontlike kleure is geredelik beskikbaar.

Daar is min dinge wat so lekker is as om iets uit niets te skep. Dis ongelooflik wat mens alles met net ’n hekelnaald en ’n bol hekeldraad kan doen. Nie net is hekel ’n skeppende en ontspannende tydverdryf nie, maar dit is ook baie terapeuties. As hekelaar kan jy selfs jou handgemaakte produkte verkwansel en só ’n inkomste verdien.

Beatrix Snyman se Beatrix sê: Raak hekel-slim is ’n móét vir elke hekel-entoesias of jy nou ’n ywerige beginner of ’n bedrewe kundige is. Dit is ’n allesomvattende hekelhandleiding en perfekte naslaanbron. Elmarie Knapton se mooi volkleurfoto’s wat die haarfyn stap-vir-stap-instruksies vergesel, maak jou sommer lus om dadelik te begin hekel aan die spoggerige patroonontwerpe.

Beatrix sê: Raak hekel-slim verduidelik die basiese beginsels van hekel en leer jou meer oor noodsaaklike gereedskap soos byvoorbeeld die verskillende hekelpentipes en -materiale en verskaf waardevolle en interessante inligting oor hekeldraad. Kleurteorie en hoe om kleure bymekaar te sit, word ook bespreek. Die boek wys hoe links- en regshandiges verskeie grepe op die hekelnaald toepas asook hoe om die onderskeie steke baas te raak. Daar word raad gegee oor hoe om geskrewe patrone- en patroonsimbole te lees en ontsyfer. Jy word ook geleer hoe om ’n diagram te lees met behulp van die Internasionale Hekelsimboolstelsel.

Die volledige lys steekafkortings (Amerikaans, Brits en Afrikaans) is veral baie handig. Ek hou ook daarvan dat die hekelreëls en -wenke in maklik verstaanbare taal geskryf is en dat dit met visuele voorstellings uitgebeeld word. Basiese sowel as spesiale en meer gevorderde steke word behandel. Jy leer ook allerhande kunsies en kortpaaie soos byvoorbeeld hoe om draadstertjies behoorlik weg te werk.

Skaf gerus hierdie pragboek aan en leer ’n nuwe stokperdjie wat aan jou ure se genot sal verskaf. Voltooide projekte soos die pastelkleurige gilet lumière, besondere doiliegordyn, vierkantige mandalakussing en omkeerbare geweefde mat sal jou baie komplimente besorg.

Meer oor die skrywer:
Beatrix Snyman bied sedert 2012 haar gewilde hekelklasse en -werkswinkels aan. Sy ontwerp graag hekelpatrone en besit haar eie reeks alpakka- en merinohekeldraad.

Beatrix sê: Raak hekel-slim is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za.

Koop die boek by Graffiti Boeke teen R260-00.

Louise Viljoen is ‘n resensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.