Boekresensie: Beatrix sê: Raak Tunisiese hekel baas

Beatrix sê: Raak Tunisiese hekel baas deur Beatrix Snyman word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Hekel is deesdae ’n uiters gewilde kunsvorm waaraan oud en jonk, man én vrou, ywerig deelneem. Tunisiese hekelwerk, ’n baie ou, tradisionele hekeltegniek, beleef tans ’n oplewing in hekelkringe.

Voorheen was Tunisiese hekel geassosieer met swaar, dik komberse, maar hekelaars eksperimenteer tans met nuwe steke en tegnieke. Daar word fluks gehekel aan die fraai kantpatrone, interessante vorms en kleurvolle ontwerpe. Hekelaars is dit eens: Daar is min dinge wat so lekker is as om iets uit niets te skep. Mens kan ongelooflik kreatief omgaan met ’n hekelnaald en ’n bol hekeldraad en selfs ’n inkomste verdien uit dié skeppende tydverdryf wat ook terapeuties van aard is.

Beatrix sê: Raak Tunisiese hekel baas is ’n móét vir elke hekel-entoesias of jy nou ’n ywerige beginner of ’n bedrewe kundige is. Dit is ’n allesomvattende verwysingsgids en perfekte naslaanbron wat jou leer hoe om dié gewilde hekeltegniek baas te raak. Met meer as 40 verskillende steke kan jy na hartelus hekel en verskeie hekelkunsies beproef. Beatrix en Anton Snyman se mooi volkleurfoto’s, wat die haarfyn stap-vir-stap instruksies vergesel, nooi jou om onmiddellik te begin hekel aan die spoggerige patroonontwerpe.

Beatrix sê: Raak Tunisiese hekel baas leer jou meer oor die geskiedenis van Tunisiese hekel en die basiese beginsels daarvan. Die boek gee raad oor noodsaaklike gereedskap soos die verskillende hekelpentipes en -groottes, en verskaf nuttige inligting oor hekeldraad. Jy leer hoe om patrone te lees en diagramme te ontsyfer, asook waarvoor afkortings en simbole in Tunisiese hekel staan. Ook hoe om probleemareas te identifiseer en reg te maak en kleure en fatsoene in patrone in te verweef.

Die hekelreëls en -wenke is in maklik verstaanbare taal geskryf is en word met puik visuele voorstellings uitgebeeld. Basiese sowel as spesiale en meer gevorderde steke word behandel. Jy leer verskeie kunsies en kortpaaie soos bv. hegmetodes, die vermeerdering of vermindering van steke en hoe om ’n sirkel te maak. Elke steeksoort het dan ook ’n patroon vir ’n 19 cm x 19 cm monsterblokkie. As jy een blokkie met elke nuwe steek en patroon in die boek hekel, sal jy ’n besondere blokkieskombers voltooi.

Skaf gerus hierdie pragboek aan wat in Britse terminologie (VK) geskryf is, en leer ’n nuwe stokperdjie wat aan jou ure se genot sal verskaf.

Meer oor die outeur:
Beatrix Snyman bied sedert 2012 haar gewilde hekelklasse en -werkswinkels aan. Sy ontwerp graag hekelpatrone en besit haar eie reeks alpakka- en merinohekeldraad.

Beatrix sê: Raak Tunisiese hekel baas is by toonaangewende handelaars beskikbaar.
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R285-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.