Boekresensie: Begin jou eie groentetuin

Begin jou eie groentetuin deur Johan van Zyl en Peter van Noord word uitgegee deur Human & Rousseau

Wat ’n absolute fees van ’n boek is hierdie nie! My man, ’n groentetuin-entoesias, het vir ure lank met my kopie verdwyn en homself tussen die bladsye en hope wenke verloor. Ek moes net keer of die boek is tuin toe saam met hom! Nie net word die inligting hierin vervat leersaam en op ’n interessante wyse aangebied nie, maar die pragfoto’s is ’n visuele bederf.

Dis asof daar ’n kollektiewe versugting onder die hedendaagse mens is om die gejaagdheid van ons daaglikse bestaan te fnuik deur terug te keer na die natuur toe. Daar is weinig bevrediging daaruit te put om geprosesseerde en geblikte kos van die winkelrakke af te koop. Dit is dalk gerieflik om kitskos te koop, maar ons begin al meer besef dat die kos wat ons inneem ’n direkte invloed op ons gesondheid het. Daar is dus min dinge so bevredigend as om jou eie groente te plant en daagliks dop te hou hoe dit groei. En dan, die heerlike beloning om mandjiesvol kraakvars en gesonde groente uit jou eie groenteparadys te oes en voor te berei! Dit mag ’n tydrowende proses wees, maar die terapeutiese waarde om in die buitelug te woel en te weet waar jou kos vandaan kom, maak op daarvoor.

Begin jou eie groentetuin is propvol waardevolle wenke om in ’n japtrap jou eie groente te kweek, of dit nou op ’n vensterbank, vertikaal teen ’n muur of in jou agterplaas is. Die boek vertel jou alles wat jy behoort te weet oor waterbesparing en permakultuur, asook biodinamika en herwinning. Jy leer dus om die nuutste ontwikkelings en tendense betreffende die plant van groente in te span. Die lekkerste van alles is dat die twee skrywers, plattelanders Johan van Zyl en Peter van Noord, groentekwekers aanraai om hulle kennis en ondervinding met mekaar te deel en by mekaar kers op te steek. Bure kan byvoorbeeld verskillende groente plant en onder mekaar uitruil.

Die inhoud van die boek bestaan uit sewe interessante hoofstukke, naamlik:

Voor jy begin: Die voordele van organiese, selfgekweekte groente en tuinmaak is legio. Hierdie hoofstuk herinner jou daaraan waarom jou eie geil kostuin iets is om na uit te sien.

Beplan behoorlik: Jy moet weet watter tipe grond jy tot jou beskikking het om in te plant, asook in watter klimaatstreek jou groentetuin val. Dink na oor watter tipe beddings en/of planthouers jy van gebruik gaan maak. Hierdie hoofstuk gee raad oor hoe om die tekstuur van grond te toets en ook watter tipe grond die beste is vir die kweek van verskillende soorte groente.

Kry die grond reg: Die skrywers stel dit onomwonde “dat goeie, gebalanseerde grond die alfa en omega van álle gelukkige, produktiewe ekostelsels is”. As groentekweker moet jy jou grond vertroetel en verbeter. Hierdie hoofstuk vertel jou meer oor deklae en dekgrasse en ook hoe jy kompos kan maak.

Dis planttyd: Jy het die uitleg van jou groentetuin beplan. Nou is dit tyd om jou grond los te maak deur dit om te spit vir goeie dreinering en om lug in te werk sodat jou plantwortels genoeg suurstof sal hê. Hierdie hoofstuk leer jou onder meer om jou eie grondmengsel vir saai te maak. Dit bevat ook inligting oor saad en saailinge en ook hoe om dit te plant.

Hou jou groentetuin gelukkig: Terwyl die saad wat jy geplant het ontkiem of die saailinge groei, moet jy jou hand op die tuin hou en sorg dat jou plante alles het wat hulle nodig het, bv. voldoende water, liefde en voeding. Hierdie hoofstuk vertel jou alles wat jy behoort te weet oor die opvang van water en die aanwending daarvan in jou groentetuin. Jy leer ook meer oor organiese bemesting sowel as die bestryding van allerlei peste en plae op natuurlike maniere.

Groentelyste: Die mees algemene groentesoorte (en sommige kruie) word hier bespreek. Wat is hulle voor- en afkeure? Wanneer en hoe plant jy hulle? Watter groente kan jy naby aan hulle plant en watter moet jy liefs ver van hulle af plant? Hoe gereeld moet hulle water en ander voeding kry? Hoe tref jy voorsorgmaatreëls om hulle vyande weg te hou? Hoe oes en bêre jy hulle? Waarvoor gebruik jy hulle? Watter variante is daar beskikbaar?

Interessante tuinmaak-benaderings: Hierdie hoofstuk is besonder interessant en vertel meer oor die nuutste metodes en alternatiewe maniere rakende die aanplant en versorging van groentetuine.

Agter in die boek is ’n handige saaitabel wat presies wys wanneer jy wat waar kan plant.

Skaf gerus hierdie volkleur, sagteband boek van 192 bladsye in ’n lekker groot formaat (270 mm x 200 mm) aan vir jouself of vir daardie geliefde wat droom van sy eie groente kweek. Jul kan binne weke begin smul aan die voedsame opbrengs. Betrek gerus die hele gesin in die plant en bewerking van jul groentetuin – dis ’n uitstekende manier om kwaliteit gesinstyd saam deur te bring.

Meer oor die skrywers: Johan van Zyl en Peter van Noord is bekende en ervare joernaliste, redigeerders en vertalers. Hulle woon op Koringberg in die Swartland en boer onder meer op kleinskaal met olywe.

Koop die boek by Graffiti Boeke of toonaangewende handelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OWO ·

Die boek lyk interessant nav die beskrywing daaroor.Jy kon tot op ‘n stadium in die stede in jou erf groente en vrugte kweek sonder groot problem,maar sedert ‘n paar jaar gelede is al wat pes en plaag is teenwoordig.Jy moet alles rot, en ons gevleuelde vriende dig maak,anders oes jy niks nie.Jou vrugte bome moet met nette toegemaak word en jy moet ‘n hok bou vir ‘n groente tuin om ten minste die onwelkome eters uit te hou.Ek hou nou maar by my gewone blomtuin wat vir my meer plesier verskaf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.