Boekresensie: Blinde mol of wyse uil?

Blinde mol of wyse uil? deur Susan Coetzer word uitgegee deur Lux Verbi.

Hierdie broodnodige boek moedig die leser aan om in vandag se ongekende goddelose tye minder blinde mol en meer wyse uil te word. Die wêreld het mense met integriteit nodig – “mense met die volledige stel goue eienskappe wat hulle besonderse, veelsydige, volronde, standvastige en betroubare wyse uile maak. Mense op wie jy kan peil trek. Al die eienskappe wat ook in Jesus se lewe en optrede sigbaar was” (11).

Volgens Susan Coetzer, bekende skrywer en motiveringspreker, het wyse uile ’n groter perspektief en is sintuiglik wakker en leergierig, terwyl molle blind en doof voortploeter deur dieselfde donker ondergrondse paadjies.

Integriteit verwys na Jesus se suiwer, onbesproke karakter. Christene moet nie net lief wees vir die Here se waarheid nie; hulle moet die waarheid praat en leef. Om vroom te wees, is nie genoeg nie. Ons moet ons geloofsbeginsels uitleef. Daar moet dus nie ’n gaping wees tussen ons waardestelsel en optrede nie.

Coetzer rig ’n uitnodiging aan elke leser vir wie dit baie belangrik is om Jesus se waardestelsel en karaktereienskappe in die alledaagse lewe uit te leef. “Word blinker geslyp tot ’n meer volledige mens, tot ’n Christen met al die goue eienskappe wat die Meester uitgeleef het, tot ’n suiwer geloofsmens wat ’n aanwins vir sy koninkryk en vir die hele samelewing is, tot ’n wyse Christen wat ander inspireer” (14). Sy skryf dat mense met integriteit regdoeners is. “Hulle is ’n ligtoring van hoop in ’n wêreld wat ál meer besoedel raak met korrupsie, gewetenloosheid, nepotisme, narsisme, selfverryking, selfsug en leuens” (34).

Blinde mol of wyse uil? beslaan 208 bladsye. Coetzer verduidelik wat integriteit is en wys tien eienskappe uit wat ons as geloofsgewoontes kan aankweek en deel van ons alledaagse optrede kan maak. Hierdie eienskappe is eerlikheid, opregtheid, waardering, respek, regverdigheid, getrouheid, deernis, nederigheid, vrede en omgeeliefde. Ná elke eienskap is daar ’n “karakter-slypskool” met onder meer ’n indringende vraelys wat lesers invul om hulself te evalueer. Daar is ’n gebed om oor elke eienskap te bid plus ’n praktiese opdrag om transformasie en vernuwing aan te help.

Hoewel Coetzer in ’n gemaklike en met tye humoristiese geselstrant skryf, is haar aanslag byna ongemaklik reguit en eerlik. Dit krap haar om dat baie Christene se woorde en dade nie by mekaar pas nie, want dit maak ’n bespotting van die Here wat hulle verkondig. Die meeste van haar ongelowige vriende het ontnugterde ervarings met Christene beleef en het vertroue in gelowiges se woord en karakter verloor, skryf sy. Sy self het al duur lesse geleer en foute gemaak, en dis juis omdat sy haar hand diep in eie boesem steek en eerlik is oor haar eie reis tot geestelike vernuwing dat ek aanklank by haar skrywe kon vind.

Die boek is Skrifgefundeer en deurspek met voorbeelde wat help om die boodskap duidelik te maak.

Coetzer vra of ons as Christene bereid is om op te hou om ons vinger na ander te wys en die Here sal toelaat om sy soeklig diep in ons harte te laat skyn. Is ons ontvanklik om te wil leer en te verbeter? “Die doel van die reis is nie om jou sleg te laat voel oor jouself en jou lewe nie, maar om jou te bemoedig om dapper genoeg te wees om ’n nuwe baadjie om te slaan en die verkeerde dinge wat die Here vir jou wys, reg te stel” (24).

Ek beveel Blinde mol of wyse uil? aan vir die leser wat Jesus as rolmodel van volmaaktheid sien en streef om meer en meer soos Hy te wees en met integriteit te leef.

Blinde mol of wyse uil? is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar. Skaf dit gerus ook hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scholtz ·

Betreffende die sesde paragraaf van die resensie, iedere en elke persoon, wat seg dat hy of sy ‘n Christen is, het sy of haar eie unieke “brand of Christianity”, wat te enige tyd kan verander. (Mens sal ‘n beperkte blik van die skryfster – van die boek – se “brand” kry, deur die lees van die boek.) Persone, wat seg hulle is Christene en wat deur hul handel en wandel die Christelike geloof ‘n slegte naam gee of dit in oneer bring, het ten tyde van sodanige onwelvoeglike handel en wandel ‘n krom en skewe persoonlike “brand of Christianity” gehad en hul handel en wandel was ‘n ooreenstemmend daaraan. Die doelwit behoort te wees om nie staties te wees nie, maar om ingesteld te wees om mens se “brand” te “verbeter”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.