Breek vry van jou verlede is geskryf deur H. Norman Wright en word uitgegee deur CUM.
Kan ’n mens regtig genesing ervaar van trauma, verlies en teleurstellings en voluit leef in hoop en vreugde? Norman H. Wright, die outeur van Breek vry van jou verlede, vra juis: Staan jou gister in die pad van vandag en môre?” Hy antwoord só: “Sit die verlede agter jou, lewe voluit in die hede en sien uit na die toekoms. Genesing ís moontlik.”
Ek het baie waarde geput uit die lees van hierdie inspirerende boek. Wright, ’n spesialis op die gebied van rou en trauma, skryf op ’n vloeiende en gemaklike geselstrant en gee talle praktiese voorbeelde wat tot die leser spreek. Sy beduidende ervaring kom sterk deur in die teks, en hy deel insig en goeie raad wat Skrifgefundeerd is. Hy verwys ook gereeld na gesaghebbende bronne en haal ander kenners aan wat sy gedagtes rondom die seerkry van gister en ook traumatiese verlies onderstreep.
Wright lei die leser daarin om weer hoop vir die toekoms te vind deur “noukeurig te kyk na jou herinneringe, blywende seerkry te identifiseer, trauma uit die verlede te verwerk, oor ou verliese te treur, en dan ewige vryheid in Christus vir jou toe te eien” (flapteks). Hy doen dit deur die leser onder meer “ek wens …”- stellings te laat voltooi, nuttige oefeninge te laat doen, daaglikse positiewe verklarings te maak, herinneringe neer te skryf, gebede te bid, ens. Voorts verduidelik hy meer oor die invloed wat trauma en gepaardgaande emosies op die brein en liggaam het.
Hy wei ook uit oor die belangrike rol wat vergifnis en aanvaarding speel en wys daarop dat ons keuses het om óf vasgevang te wees, óf vry te wees.
Die boek se slotparagraaf vang die kernboodskap van Breek vry van jou verlede mooi vas: “Jy het jou storie. Vertel dit vir Jesus. Gee vir Hom jou storie, en laat Hom toe om jou lewe te verander. En dan deel jy sy waarhede met vreugde en oortuiging” (200).
Uittreksel: “Dit begin met ’n verlossingsgeheue, wat ons in staat stel om die verlede anders te onthou – nie as iets ideaals waarheen ons wil terugkeer of as ’n verwyt wat ons graag wil omkeer nie, maar eerder as een hoofstuk in ’n groter verlossingsverhaal wat ons steeds in die huidige oomblik uitleef. God is in die verlede, ongeag hoe ideaal of aaklig; Hy regeer oor die verlede en belowe om die verlede te gebruik, net soos wat dit is, om verlossing mee te be bring. Hy sal sorg dat alle dinge by sy plan inval en sy verlossingsdoel vervul” (13).
Meer oor die outeur: H. Norman Wright is die outeur van 90 boeke. Dit is sy passie om persone met verhoudingsprobleme te help. Hy help mense ook om hartseer te verwerk en tragedie te hanteer deur middel van berading, boeke en seminare. Hy het selfs ’n traumaspan in die VSA waar hy en sy gade, Tess, woon.
Skaf gerus Breek vry van jou verlede hier aan.