Boekresensie: Briljant! Opwindende eksperimente vir jong wetenskaplikes

Briljant! Opwindende eksperimente vir jong wetenskaplikes deur Robert Winston (vertaling deur Jaco Jacobs) word uitgegee deur Lapa Uitgewers

Jong wetenskaplikes sal absoluut mal wees oor hierdie fantastiese boek propvol asemrowende feite, ongelooflike buitelugeksperimente en opwindende projekte. Die onderskeie aktiwiteite word vergesel deur pragtige foto’s, stap-vir-stap illustrasies en maklike en gedetailleerde instruksies.

Slimkoppe leer speel-speel hoe om alledaagse huishoudelike items in te span om die oulike eksperimente mee uit te voer. Die werklike wetenskap agter elke eksperiment word op ’n fassinerende wyse verduidelik aan die hand van voorbeelde uit die regte lewe. Dié moet-hê publikasie sal leergierige en nuuskierige kinders aanmoedig om meer tyd in die buitelug te spandeer en hulle wêreld te verken.

Briljant is in vier baie interessante hoofstukke ingedeel. Hier volg die titel van elke hoofstuk gevolg deur slegs enkele voorbeelde van die aktiwiteite en projekte wat die jongspan kan aanpak.

In die natuur: Periskoop, Vlindervoerder, Wurmplaas (altesaam sewe aktiwiteite).
Weer-wêreld: Reënmeter, Termometer, Anemometer (altesaam vyf aktiwiteite).
Waterkrag: Reuse-borrels, Tollende draaikolk, Wonderlike water (altesaam vyf aktiwiteite).
Grond en lug: Watervuurpyl, Lugkanon, Glinsterende kristalholtes (altesaam nege aktiwiteite).

Die boek van 160 bladsye is geskik vir skooltake en word aanbeveel vir kinders 9 jaar en ouer. Die woordelys agter in die boek is ook baie handig. Ek voorsien dat naweke en vakansies voortaan gevul gaan word met hierdie leersame aktiwiteite en projekte.

Meer oor die outeur: Robert Winston is ’n bekende Britse professor en mediese dokter. Hy is ook ’n wetenskaplike en bied verskeie BBC-televisiereekse oor die wetenskap aan.

Briljant word deur LAPA uitgegee en is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B ·

Lyk interessant!

(Hoe mis ek my ‘Die Brandkluis’ boeke I & II van Jan Horn :) )

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.