Boekresensie: C.J. Langenhoven se spookstories

Die kinderboek, Die wandelende geraamte en ander spookstories van C.J. Langenhoven, soos saamgestel deur Wendy Maartens en met illustrasies deur Marjorie van Heerden, word uitgegee deur Protea Boekhuis.

My oorlede oupa en sy sibbe was baie lief om stories te vertel. Nie opgemaakte stories nie, maar stories uit hulle kinderdae. Oupa Hendrik was veral bekend daarom dat hy spookstories kon vertel wat mens nagte laat wakker lê het.

Hy het altyd volgehou dat hy die spokerige verskynings en ervaringe óf self gewaar en ervaar het óf dat dit aan hom vertel is deur geloofwaardige ooggetuies. Ons het menige donker en stormagtige nag, wanneer die weer die elektrisiteit uitgeslaan het, rondom ’n kers gekuier en dan het Oupa vir ons spookstories vertel. Ons kinders het naderhand hierdie stories uit ons koppe geken, maar dit was elke keer ’n grillerige belewenis wanneer Oupa ons op ’n spookstorie soos net hý dit kon vertel, vergas het. Ek was dus baie opgewonde toe ek ’n kopie van Die wandelende geraamte en ander spookstories van C.J. Langenhoven onder oë kon kry.

Wendy Maartens, kinderboekskrywer, joernalis, vertaler en dromer van formaat, het, nadat ’n bibliotekaresse gevind het dat kinders ’n ou hardebandbundel met Langenhoven se spookstories uit die volwasse afdeling na die kinderafdeling gesmokkel het om te lees, besluit om van die verhale te hervertel sodat dit nóg meer aanklank by hedendaagse kinders sal vind. Maartens vertel: “Terwyl ek aan die bundel gewerk het, het ek my soms verbeel Langenhoven sit in die blou leunstoel langs my boekrak. As hy tevrede was met waarmee ek op daardie tydstip besig was, was daar die gemeenskaplike stilte wat baie woorde op papier soms tussen twee mense bring en … nou en dan, die geur van ’n pyp wat aangesteek word.”

Die wandelende geraamte en ander spookstories van C.J. Langenhoven beslaan 128 bladsye, en kinders vanaf nege jaar oud behoort lekker hieraan te lees. Die sagtebandbundel spog met vyftien spookstories sowel as wenke vir ouers en onderwysers. Maartens skryf: “Spookstories is meestal legendes of kontreistories wat eie is aan ’n sekere plek. Dit word geslagte lank reeds vertel” (9). Sy raai ouers aan om kinders se vrae oor die dood eerlik en ouderdomstoepaslik te antwoord: “Wanopvatting is verantwoordelik vir baie onnodige vrese wat meebring dat sogenaamde spoke onnodig die sondebok gemaak word” (9). Sy voeg by op bladsy 10: “Leer die kind om sy eie ja/nee-gevoel op die krop van sy maag te identifiseer en dienooreenkomstig op te tree. Dit geld vir leesstof, internetmateriaal, films en geselskap. Sodra jy ongemaklik is, het jy die reg om op te staan en iets anders te gaan doen.” Haar raad is om op die lewensles in ’n storie te fokus en die humor daarin raak te sien.

Ek het die bundel geniet. Maartens het elke storie versigtig uitgekies en oorvertel om by die oorspronklike teks aan te sluit, sonder om die gevoel en atmosfeer van “in die ou dae” prys te gee. Die teks is ook in ’n gerieflike leesformaat gedruk. Ouer mense sal dus bly wees om te verneem dat hulle ook lekker aan die groter skrif sal lees. Wallace se mooi illustrasies verleen ekstra luister aan die stories. Ek glo die bundel sal ’n nuwe generasie Langenhoven-lesers aanspoor om hulle verbeelding te gebruik en ook vir Ouma en Oupa te vra om vir hulle stories uit dié se kleintyd te vertel. Daar is sóveel kosbare familiestories wat verlore gaan omdat dit nie opgeteken word nie.

Uittreksel: “Ons is skaars op die werf of ’n ding sleep oor die stoep. My perd bewe so dat hy nie ’n tree verder kan loop nie. Ek moet hom teruglei en afsaal en in ’n kamp los. Ek is skaars drie treë weg of hy bars deur die heining en hardloop dat dit klap. Toe word ék bang. Hier staan ek stoksielalleen in die nag met ’n spook vir geselskap. Die hare op my kop staan penorent. Langs my ritsel iets onder ’n bos. Êrens in ’n boom roep ’n uil” (81).

Maartens woon in Table View. Haar talle publikasies sluit Die beste verse van Tienie Holloway (Protea, 2021) Jeremia en die amandelboom (LUCA, 2021) en Donkie se lang pad dorp toe (LAPA, 2021) in.

Wallace woon in Gordonsbaai. Sy het meer as 120 boeke geskryf of geïllustreer, en van haar titels sluit Nina en eendjie (Human Rousseau, 2007) en Goblin Diaries: Apprenticed to the Red Witch (Tafelberg, 2011) in.

Skaf jou kopie van Die wandelende geraamte en ander spookstories van C.J. Langenhoven by toonaangewende boekwinkels aan of bestel dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.